Vakbonde waarsku oor groot werksverliese by Mango

Die vakbonde voer aan die geld wat nodig is om Mango weer aan die gang te kry, word “gyselaar gehou” omdat die aandeelhouer nie wil hê dit moet weer in bedryf kom nie. (Foto: Mango/Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca), die metaalwerkersvakbond Numsa en die Mango-vlieëniersvereniging (MPA) sê hulle het met kommer kennis geneem van die raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) om geen verdere kapitaalinspuiting vir die laekostelugredery te steun nie.

Mango is ʼn filiaal van die SAL.

Volgens die vakbonde dwing die SAL nou Mango se sakereddingspraktisyn, Sipho Sono, om Mango gehok te hou, ondanks sy “desperate pogings om Mango-vliegtuie teen Desember vanjaar terug in die lug te kry”.

In ʼn brief van prof. John Lamola, voorsitter van die SAL-raad, sê Lamola SAL, as enigste aandeelhouer van Mango, kon geen motivering verskaf vir die kapitaalinspuiting wat nodig is vir Mango om weer sy kommersiële bedrywighede te hervat nie.

Die brief lui voorts dat geld vir Mango se sakereddingsproses nie as bedryfskapitaal gebruik moet word met die doel om die redery weer op die been te kry nie. Die SAL-raad hou vol dat Mango gehok moet bly tot ʼn strategiese ekwiteitsvennoot gevind kan word. Intussen vra die raad dat die redery tydelik uit bedryf gestel word.

Die vakbonde sê hulle het in Julie presies hierteen gemaan toe hulle Mango hooggeregshof toe gesleep het om in sakeredding geplaas te word sodat werksgeleenthede gered kan word.

“Ons was bekommerd dat dit nooit die departement van openbare ondernemings se bedoeling was om Mango te red nie en dat hy dit doelbewus in die grond in wou bestuur. Dit lyk of ons reg bewys is,” lui ʼn verklaring deur die vakbonde.

Die vakbonde voer aan die geld wat nodig is om Mango weer aan die gang te kry, word “gyselaar gehou” omdat die aandeelhouer nie wil hê dit moet weer in bedryf kom nie.

“Dit is absurd. Dit laat die vraag ontstaan oor waar die departement se ware bedoeling met Mango is.”

Die MPA, Numsa en Sacca voer aan Mango is ʼn bedreiging vir die nuwe SAL en sy voorgenome ooreenkoms met die Takatso-konsortium. “Dit lyk of die ooreenkoms nie kan voortgaan solank as wat Mango oorleef nie.”

Sacca en Numsa het onlangs die enorme probleme uitgelig wat steeds by die SAL ondervind word en wat die SAL-raad oënskynlik weier om op te los. Hulle sê daar is geen deursigtigheid aan die ooreenkoms nie en wil weet wie uit die Takatso-ooreenkoms gaan baat as Mango misluk.

Die vakbonde sê hulle het hulle in Julie tot die hof gewend en dit lyk nou of Mango gelikwideer sou word indien hulle nie destyds die aansoek ingedien het om Mango in sakeredding te plaas nie. Die departement en die SAL het die aansoek teengestaan en die vakbonde voer aan albei saboteer nou die herlewing van Mango.

Intussen het die R819 miljoen wat aan Mango toegewys sou word, steeds nie die redery bereik nie.

“Mense is bang en oorweeg dit om vrywillige skeidingspakkette te neem omdat hulle nie weet wat die lot van die redery gaan wees nie. As Mango nie weer vlieg nie, gaan hy sukkel om ʼn ekwiteitsvennoot te vind en die sakereddingspraktisyn sal nie sy werk kan doen nie.”

Die vakbonde waarsku ook dat Mango se waarde en herverkoopvermoë kwaai geknou gaan word as hy die regte op sekere roetes, sy handelsmerk en passasiersvertroue, asook personeel en vaardighede verloor.

“Die waarskynlikste uitkoms is dat die redery gelikwideer word – en dit sal die ergste wees. Die ineenstorting van Mango sal lei tot 708 werksverliese en dit gaan na die res van die bedryf oorspoel omdat Mango tot duisende werksgeleenthede in die waardeketting bydra.”

Die lugvaartbedryf het die afgelope ruk reeds duisende werksverliese gehad. Net ʼn paar honderd mense bly by SAL se tegniese afdeling, SAAT, oor en 800 mense by SA Express is hul werk kwyt.

Die vakbonde sê die regering en sy minister beweer hulle doen alles moontlik om werk te skep, maar in hierdie geval lyk dit eerder of die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, werksverliese probeer veroorsaak.

“Die instelling kan en behoort gered te word, maar daar is geen politieke wil nie en werkers en hul gesinne gaan deur werksverliese weereens die prys vir wanbestuur en korrupsie betaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pieter ·

Kla julle wat vir die sleg anc gestem het. Als wat hulle aan raak vir ander in gemors

Martie Smartie ·

Uhmm Pieter, dis MM hierdie, nie Sowetan of Drum nie …

casper ·

Maar is dit dan nie nou die gulde geleentheid vir die vakbonde watr altyd so kla oor bestuur om die luredery te koop en almal te wys hoe dit gedoen moet word nie?
Komaan Cosato – julle kan mos nie waar nie??

Swartskaap ·

Elke kader beheerde entiteit wat ondergaan is uitstekende nuus. Dit beteken daar gaan nie verder belasting geld op dié rioolputte vermors word nie.

Dup ·

SAL was geoormerk vir ineenstorting die dag toe die Kaders beheer oorgeneem het.Feite is feite.

Jo-Anne ·

SAL is net besig om ontslae te raak van hulle opponent. Hoe minder opponente daar is vir SAL, hoe meer mense sal dan gedwing wees om met hulle te vlieg en finansieel te onderhou.

Pablo ·

Vir wie waarsku hulle? Pateties hoe alles inmekaar gestort het en dan is daar nog die wat dink dit sal voorentoe beter gaan

christo ·

As Kulula op hulle eie d.m.v. sakeredding moes oorleef en sonder die belastingbetaler se inspuiting moes oor die weg kom, hoekom moet ons die SAA en nou nóg Mango uit die gemors kry? Hulle kajuit personeel is die helfte meer per vlug as die van FlySafair en Kulula.

casper ·

Moenie worrie nie — Rammerposer het mos miljoene jobs belowe !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.