Vakbondpresident se huis met petrolbom gegooi

Argieffoto

Argieffoto

Die president van die vervoervakbond Satawu se huis in Vosloorus is vroeg Dinsdagoggend met ʼn petrolbom gegooi.

Vincent Masoga, woordvoerder van die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu), het bevestig dat die sitkamer van June Dube se huis tydens die aanval beskadig is. Die Gautengse polisie het intussen gesê dat hulle nie bewus is van die voorval nie.

Dit volg nadat die sekretaris-generaal van Satawu gisteraand op die N17 in Germiston aan die Oos-Rand doodgeskiet is. Masoga het gesê Chris Nkosi was op pad na sy huis in Springs toe hy deur ʼn groep gewapende mans voorgekeer en vyf keer geskiet is.

Masoga het gesê die moontlikheid bestaan dat Nkosi deur ʼn huurmoordenaar doodgeskiet is. “Verskeie ander leiers van ander provinsies is gedreig. Daarom het die vakbond lyfwagte aangeskaf,” het hy gesê.

Die Congress of SA Trade Unions (Cosatu) het sy skok uitgespreek oor die aanvalle op die twee Satawu-leiers. Die vakbondfederasie het Satawu die afgelope tyd gehelp om interne struwelinge uit te sorteer.

“Ons weet tans nie wie agter hierdie misdade sit of wat die redes daarvoor is nie,” het Sidumo Dlamini, Cosatu se president, gesê. “Dit het egter plaasgevind in ʼn tyd wat die vakbond interne verskille en spanning moet hanteer.” Dlamini het ʼn beroep op Satawu se lede en leiers gedoen om die vrede te bewaar en het gesê Cosatu sal binnekort met die vakbond vergader.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.