Vakleerling sterf ná ‘fratsongeluk’

Foto: Facebook.

Die ma van ʼn vakleerling van die Vrystaat wat dood is nadat hy erge brandwonde by die Motheo-kollege in Bloemfontein opgedoen het, sê sy weet steeds nie regtig wat daardie dag by die kollege gebeur het nie.

Christo Steyl (20) is Saterdag in die Mediclinic Bloemfontein dood nadat hy op 30 Oktober erge brandwonde aan 48% van sy liggaam opgedoen het. Elize Steyl, Christo se ma, het aan Maroela Media gesê Christo het as motorwerktuigkundige by die kollege studeer.

Volgens Elize was Steyl ten tyde van die voorval besig om aan ʼn motor se enjin te werk. “Die lektor het glo die motor aangeskakel en hulle het petrol geruik. Hy het dadelik die kar afgesit en toe was daar glo ʼn vonk en die enjin het aan die brand geslaan,” het Elize vertel.

Sy vertel Steyl het brandwonde oor 48% van sy liggaam, meestal aan sy bolyf, opgedoen. “Hulle het my gebel en met hom na Mediclinic in Bloemfontein gejaag. Die traumaspesialis het vir my gesê hy het derdegraadse brandwonde aan sy arms en hande opgedoen, asook brandwonde aan sy gesig en bolyf,” het Elize gesê.

Steyl is dadelik in die waakeenheid van die hospitaal opgeneem en is drie keer teater toe geneem voor hy Saterdagoggend oorlede is. “Die eerste keer het hulle sy wonde in die teater skoongemaak, die tweede keer het hulle onder meer ʼn asemhalingsmasjien aan hom gekoppel en die derde operasie was vir veloorplantings en ʼn tragea (lugpyp).”

Dokters het Steyl Dinsdag onder diep verdowing geplaas na afloop van die derde operasie omdat hulle nie wou gehad het hy moet baie beweeg nie en die oorgeplante vel só kans gee om te “vat” op sy lyf.
“Ek het Vrydagoggend gesien dit gaan nie goed nie. Sy bloeddruk was laag en sy hartklop was nie lekker nie en toe ek Vrydagaand by hom was, was sy hartklop geweldig laag en hulle het vir hom ʼn drup opgesit om dit bietjie op te jaag. Ek het vir die verpleegsters gevra of ek later net weer kan bel om te hoor of alles oukei is,” het Elize vertel.

Toe sy om 22:45 bel om te hoor hoe dit met hom gaan, het personeel vir haar gesê “dinge lyk nie goed nie” en dat sy onmiddellik hospitaal toe moet kom.

Steyl is net ná 01:00 Saterdagoggend dood “Ek dink die skok was net té groot,” het sy gesê.
“Hy het ʼn baie stoute persoonlikheid gehad, maar ook baie ernstig. Hy was ʼn introvert en het altyd eers die kat goed uit die boom gekyk. Hy was ʼn denker.”

Volgens Elize het sy nog geen meer inligting gekry oor die voorval behalwe dat dit ʼn “fratsongeluk” was en dat Steyl op eie risiko daar was nie.

Die familie hoop om Vrydag sy begrafnis te hou, maar wag eers vir die verslag van die nadoodse ondersoek.

Chris word oorleef deur sy ouers, Elize en Chris, en tweelingbroer, Jaco.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

sonja coetzee ·

My innige simpatie aan sy ouers,tweelingbroer,familie en vriende.Dit bitter hartseer om dit te lees shame dink hoe seer moes hy gehad het om 45% van jou vel te verloor.Sterkte mensie mag Ons Hemelse Vader julle styf vashou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.