Valke-baas vaar uit teen O’Sullivan oor ‘beweringe’

Paul O'Sullivan. Foto: AfriForum

Paul O’Sullivan. Foto: AfriForum

Lt.genl. Mthandazo Berning Ntlemeza, hoof van die Valke, het Sondag uitgevaar teen die private ondersoeker Paul O’Sullivan te midde van bespiegelinge dat die Valke Vrydag ʼn klopjag op sy huis uitgevoer het nadat O’Sullivan ʼn verdoemende verslag oor die beweerde kaping van die strafregstelsel vrygestel het.

AfriForum het in Oktober verlede jaar sy teenkorrupsie-eenheid, in samewerking met O’Sullivan, in Centurion bekend gestel om korrupsie te beveg. AfriForum het tydens dié geleentheid O’Sullivan se  verslag, ‘Joining the Dots’, vrygestel.

Volgens die verslag het president Jacob Zuma beheer oor die strafregstelsel verkry om te verseker dat strafregtelike klagtes teen hom, sy familielede en hul vennote ontspoor word. Ntlemeza word direk by die verslag betrek.

Die verslag maak melding daarvan dat president Zuma beheer oor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke verkry het. Volgens die verslag kan president Jacob Zuma, Vinesh Moonoo, Mthandazo Ntlemeza, Prince Mokotedi, Nkosinathi Nhleko en Shaun Abrahams strafregtelik aangekla word van rampokkery, korrupsie en regsverydeling.

O’Sullivan het Vrydag aan News24 gesê die Valke het ʼn klopjag op sy huis in Johannesburg uitgevoer. Brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, het dit egter ontken.

Die polisie het O’Sullivan se assistent, die toegelate prokureur Sarah-Jane Trent (32), dieselfde dag onder raaiselagtige omstandighede in Johannesburg in hegtenis geneem en eers Sondagaand vrygelaat.

Ntlemeza het in reaksie uitgevaar teen O’Sullivan se bewerings in die ‘Joining the Dots’-verslag.

Hy het by monde van Mulaudzi vir O’Sullivan gewaarsku om “die kolletjies op die regte manier te verbind” met verwysing na die verslag.

“Lt.genl. Ntlemeza neem met absolute verbystering kennis van O’Sullivan se bewerings in die media, asook van die sogenaamde ‘Joining the Dots’-verslag,” het Mulaudzi gesê.

“Van al die dinge waaroor die sogenaamde dokument spekuleer, is lt.genl. Ntlemeza meer bekommerd oor die kwaadwillige, ongegronde beskuldigings wat daarop gemik is om die regering van die land te ondermyn of in gedrang te bring. Hy wil die regstelsel destabiliseer en maak wilde aantygings teenoor senior regeringsamptenare, joernaliste, sakelui en belangriker, hy beskadig die beeld van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Valke, die elite misdaadbekampingseenheid waar Ntlemeza aan die stuur is.”

Mulaudzi het gesê O’Sullivan het oor die jare bewys hy is voorbarig en sal nie twee keer dink in sy “eindelose pogings om glorie na te jaag nie”.

“As die inhoud van sy sogenaamde verslag enige waarde gehad het, sou hy reeds honderde dossiere teen die mense na wie hy vinger wys, geopen het.

“O’Sullivan is vasbeslote om nie toe te laat dat enigiets hom stuit in sy poging om die beeld van die Valke, die integriteit van die regstelsel en al die vordering wat sedert 1994 gemaak is, skade aan te doen nie. As die kolletjies wat hy tot dusver verbind het enige misdrywe uitwys, hoekom ‘verbind hy nie die kolletjies’ op die regte manier deur klagtes in te dien nie?”

Hy het ten slotte gesê O’Sullivan moet ophou om sy “goed georkestreerde leuens” deur “partydige media” te versprei.

O’Sullivan het in reaksie hierop gesê baie sake is reeds aanhangig gemaak en is na die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat gestuur.

Die stigting van Afriforum se teenkorrupsie-eenheid was die eerste stap in AfriForum se stryd teen korrupsie. Die tweede stap was ʼn privaatvervolgingseenheid wat aan die einde van Januarie op die been gebring is, waar adv. Gerrie Nel, voormalige aanklaer vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), aan die stuur van sake staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Stephan ·

Sê tog net vir Zuma dit gaan nie ‘n Trunk call wees nie…..?

Piet Snot ·

Klink vir my na ‘n persoonlike aanval teen Sullivan.
Wat’s die kanse Genl Ntlemeza neem eerder die bewerings een vir een, en toon aan waarom Sullivan verkeerd is? Met feite.

Lou ·

Dankie tog vir waghonde soos Afriforum. Daarsonder was ons al lankal ‘n piesangrepubliek. Hulle maak die wereld nou lekker warm vir die regering…….

Vic ·

Daarsonder was ons lankal n piesangrepubliek…..”

Ons is lankal n piesangrepubliek.

Om die waarheid te se, ons is piesangslaai.

James ·

Ag die waarheid maak seer en O’Sullivan krap waar hulle dit liewers wou stilhou. Eers maak jy die vyand bang, dan elimineer jy hom.

Frik ·

Hoekom blaf die klein jakkalsies so. As hulle so bly aantygings maak oor die verslag wat valse inligting bevat, hoekom bewys hulle nie die teendeel nie?

Christa ·

Hierdie Lt.genl. weet nie eers hoe lank die Valke bestaan nie! Hierdie einste Zuma het die Skerpioene ontbind omdat hulle op pad was om hom toe te sluit!!! Daarna het hy die Valke geskep – sy eie weergawe van Hitler se SS!!!

jaco ·

O’Sullivan het ook Ierse burgerskap. Vir wat sukkel hy nog aan in SA? As ek Ierse burgerskap kon kry, was en LANKAL weg. Weg van misdaad, regstellende aksie, beurtkrag, waterbeperkings, Nkandla en honderde ander dinge wat SA oor 5 jaar ERGER as die huidige Zimbabwe sal laat lyk.

marous ·

Kan ongelukkig nie saamstem met 5 jaar nie…eerder 5 maande

magda ·

wille katte maak wille spronge….tronk wag zupta! jy en jou cronies – dit GAAN gebeur

Basjan ·

Dit is duidelik soos daglig dat daar ‘n heksejag teen O’Sullivan aan die gang is. Die NVG duld nie teenstand nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.