Valke-beampte in Bloem vermoor

Argieffoto

‘n 33-jarige verdagte het Dinsdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met die moord op kapt. Qeya Jonas Tshabalala, ‘n lid van die polisie se direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), in Bloemfontein.

Tshabalala (52) was op 24 Mei omstreeks 20:45 by ‘n huis in Taustraat, Rocklands, toe drie gewapende mans hom oorval het, het kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die Valke, in ‘n verklaring gesê. Tshabalala was nie in daardie stadium aan diens nie. “Hy is verskeie kere geskiet en het op die toneel aan sy beserings beswyk.”

Die aanvallers het met sy amptelike voertuig, dienspistool en ‘n selfoon van die toneel gevlug. Die voertuig is later verlate gevind naby Jimmy Roos-skool in Dewetsdorp.

“Die verdagte, Sprinkaan Maema (33), is Vrydag in die vroeë oggendure tussen Dewetsdorp en Wepener, ‘n paar kilometer van waar die gesteelde voertuig gevind is, in hegtenis geneem. Die polisie is nog op soek na twee ander verdagtes,” het Mbambo bygevoeg.

Maema se saak is tot 4 Junie uitgestel waar hy formeel sal aansoek doen om borgtog.

Volgens ‘n voorlopige ondersoek is een van die aanvallers vermoedelik tydens die aanval gewond. “Ons doen ‘n beroep op nabygeleë gesondheidsdienste, soos klinieke en hospitale, om die polisie dadelik in kennis te stel indien hulle ‘n slagoffer met ‘n skietwond behandel het.” Enigiemand met inligting kan kol. Nthako Mkhawulezi kontak by 082 527 7504.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PJC ·

Duidelik het misdadigers geen ontsag meer vir enige wetstoepassinsbeamte nie. Geen wet en orde meer. Chaos gaan net meer en meer word.

Arrah ·

Hier is ń groter storie agter dié. Paar weke terug is ń man betrokke by die allokering van lisensie en aantal bed toekenning by mediese instansies soos klinieke ens. vermoor in Bloem. Daar is na bewering verskeie ongeruimdhede rondom die verkryging en toekenning van sulke lisensies en beddens in die Vrystaat en dit wil vir my voorkom asof ń voormalige premier en moontlik sy nasate baie belang by dié besigheid het. Dit is alombekend dat die Valke juis die soort hoëprofiel sake ondersoek asook die feit dat regerings amptenare baie besigheid parralelle met “mafia” tipe werksaamhede kan trek.

Manna ·

Die land spiraal buite beheer. Misdaad vier die botoon en regering is te besig met binne gevegte om aandag daara te gee.

Countryboy ·

Nooit het die anc gedink toe hulle se hulle sal die land onregeerbaar maak, dat dit in hul tyd van bewind sal gebeur nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.