Valke bevestig klagte teen beleërde OB

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke. (Foto: Chantall Presence/ANA)

Die polisie se direktoraat vir prioriteitsmisdaad, oftewel die Valke, het Woensdag bevestig hy ondersoek ʼn klag wat teen die beleërde Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, aanhangig gemaak is.

Lt.genl. Godfrey Ledwaba het bevestig dat só ʼn ondersoek gedoen word, het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Die Valke bevestig dat hy formele klagte ontvang het wat onlangs by die Ocean View-polisiestasie in Kaapstad teen die OB ingedien is. Die ondersoek is nog in die beginstadium en sal met die aandag wat dit verdien ondersoek word.”

Paul Hoffman, direkteur van die nie-regeringsorganisasie Accountability Now, het klagte van meineed, regsverydeling en wanbestuur teen Mkhwebane ingedien.

Hoffman het in ʼn verklaring gesê die Valke sal die strafregtelike klagte ondersoek, terwyl die klag van wanbestuur deur Mkhwebane se adjunk, Kevin Mulunga, ondersoek sal moet word omdat sy nie haarself kan ondersoek nie.

Die strafregtelike klagte spruit uit ʼn bevinding van die Konstitusionele Hof dat die OB oneerlik was in haar optrede tydens die ondersoek na die lening wat die Reserwebank aan die destydse Bankorp toegestaan het.

Die OB se kantoor het intussen aan News24 gesê hy vind die klagte “vreemd”.

Oupa Segalwe, die OB se woordvoerder, het gesê die OB is aan niemand behalwe die parlement verantwoordbaar nie.

“Adv. Mkhwebane doen nie verslag aan haar adjunk nie en ook nie aan haar personeel nie. Dit werk andersom. Iemand moet adv. Hoffman adviseer om na die Nasionale Vergadering te gaan, aan wie Mkhwebane verantwoording doen.”

Mkhwebane het die afgelope ruk bloedneus gekry in verskeie hofsake waarin haar werkswyse en bevindings betwis is.

In die jongste hoëprofielsaak teen haar het pres. Cyril Ramaphosa ʼn dringende hooggeregshofaansoek gebring waarin hy die hof vra om te beslis dat hy wél voldoen het aan haar aanbeveling om teen die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, op te tree, of dat die remediërende optrede ter syde gestel word hangende Gordhan se eie hersieningsaansoek van die bevindings. Die hof moet nog uitspraak lewer.

Ten spyte van verskeie oproepe dat sy bedank hou Mkhwebane voet by stuk dat sy in haar amp gaan aanbly tot in 2023 wanneer haar termyn verstryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

CallieL ·

Dat sy onbevoeg is en saamwerk met die Ramaposa vyande is n gegewe. Egter kommerwekkend is duidelik dat CR nie onskuldig is nie. Besef niemand dat hy jare langs Zuma gesit en bedrog openlik ondersteun het nie. Dat hy by die meester geleer het nie. Besef niemand dat Eskom die land gaan vernietig en die rede is CR wat sy mense beskerm nie. Hoe kan almal wat so liberaal was en wit so afgekraak het hul besluite vandag nog regverdig. Die wat nie sien waarheen ons oppad is nie, word net wakker asb. Daar kan nie bekostig word dat die land in donker verval nie, dit sal die oorsaak van die grootste bloedbad ooit wees.

nabetragting ·

Hoe hartnekkig kan ‘n mens wees, maar ons moet seker aanvaar dat sy besig is om terug te veg om te keer dat die “gutters” weer haar voorland word . As ‘n mens op die punt staan om alles te verloor waaraan jy gewoont geraak het sal jy vreesloos en soms nie rassioneel dink en optree. So gaan die hele Zuma-faksie veg vir oorlewing. As jy eers die poeding geproe het is jy met niks minder tevrede nie.

Gert van Wierdapark ·

Die kommentaar van die Valke se hoof, stem mens tot onrustigheid. “Die ondersoek is nog in sy beginstadium en sal met die aandag wat dit verdien ondersoek word”. Die OB en haar aanjaag is ‘n SAAK VAN Dringendheid! Sy dra by tot die destabilisasie van SA!!!

Pieter ·

Wonder net wie betaal haar selaris dit is ons dom belasting betalers

Santjie ·

Wonder wat beteken “openbare” dan vir haar – anders sou haar posbeskrywing mos “palementêre beskermer” gewees het…. of nie :)

John ·

Toe onderhoude destyds gevoer is, het ons besef hierdie een gaan ‘n sharp-sharp-toffie wees. Die taaaaiii drade gaan laaank uitrek en die tande laat kners van vasklouuu… Miskien moet iemand ‘n hogere toring gaan raid… tasse geld hou van laaglè in donker stof, in en onder plekke, waar dit uitbroei tot meer.

Dries Moolman ·

Verkeed! Sy is aan die inwoners van hierdie land, en nog meer die belastigbetalers wat haar salaris onderhou, verantwoordbaar! Hoe arrogant kan ‘n mens wees? Sy en die EFF pas mooi by mekaar.

marous ·

Iccarus se vlerke was van was gemaak , maar hy het ook gedink hy was een van die gode ….

George in Bloem ·

Elke dag wat verby gaan gly hierdie land al hoe dieper in die gemors in en raak die kanse op omdraai al hoe minder…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.