Valke: Booysen-sage nog nie verby

Johan Booysen

Johan Booysen

Die Valke gaan die appèlhof nader nadat die hooggeregshof in Durban beslis het daar mag nie teen sy besluit om die skorsing van genl.maj. Johan Booysen om te keer, geappelleer word nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê lt.genl. Berning Ntlemeza, hoof van die Valke, neem kennis van die hooggeregshof se beslissing en dat hy sy regsverteenwoordigers opdrag gegee het om die appèlhof te nader.

Regter Anton van Zyl het Woensdag in die hooggeregshof in Durban gesê daar is geen vooruitsig van ʼn suksesvolle appèl teen die vroeëre uitspraak nie.

Ntlemeza het Booysen op 14 September geskors, kort nadat hy in 2015 as die nasionale hoof van die Valke aangewys is. Booysen is geskors te midde van bewerings van bedrog van meer as R15 000 – ʼn bewering wat deurlopend deur Booysen ontken is.

Die Valke se regsverteenwoordiger, William Mokhari, het aangevoer Van Zyl het nie die reg gehad om oor die saak te besluit nie aangesien dit ʼn arbeidsdispuut was en dat Ntlemeza binne sy regte opgetree het om Booysen te skors.

Booysen het ná afloop van die saak gesê hy is tevrede met die uitspraak en het verwag dat dit in sy guns sou wees.

Ntlemeza het verlede week ʼn nuwe KwaZulu-Natalse hoof vir die Valke aangestel. Op ʼn vraag hieroor het Booysen gesê: “Ek dink nie dit is ʼn probleem vir my nie. Dit is ʼn probleem vir hulle”.

Mulaudzi het gesê Booysen sal geskors bly hangende die aansoek in die appèlhof en dat geen verdere navrae hieroor beantwoord sal word nie.

Lees alle vorige berigte oor Johan Booysen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarel strydom ·

Die SA Regstelsel is te geduldig en word misbruik. Onuitputlike bron van inkomste vir Regsverteenwoordigers.

Max ·

Dit is veral die ANC – regsverteenwoordigers wat met sakke vol weg stap. n Groot deel van die SAPD se begroting is regskostes .

D ·

Dit is ni hulle geld ni en verstaan hulle lyk my ook ni Engels. Die uitspraak is mos duidelik.

Loeis ·

Dis ‘n goeie ding: dit versterk net Booysen se saak verder wanneer die appelhof dieselfde bevinding maak, en dalk die konstitusionele hof daarna.

Booysen moet na die hele storie druk om na sy pos terug te keer. Ntlemeza kan dan aan Booysen se plaasvervanger verduidelik wat verkeerd gegaan het.

Hermann ·

Koste word betaal deur belasting betalers en nie valke maw as jul kyk wie betaal belasting in RSA sal jul weet wie betaal vir hierdie appel en behoort jul te weet dat dit net geldmors is. Mense is nie almal bereid om geld te aanvaar om te bedank nie …

Henri ·

Hierdie is die tweede saak teen die gen.majoor. Die eerste het hy ook gewen. Die aanklag gaan oor bedrog van R15,000. wonder nou, waarom is hy aangekla? 1. Dit gaan oor die bedrag (dit was te min om te deel, miskien?) 2, Dit gaan oor sy rang, die posisie is bedoel vir ‘n comrade met meer ondervinding van GROOT bedrog (of bedrag) 3. Wit ?

Ouman ·

Weereens word die belastingbetaler musbruik om die agenda van een van Zuma se maters te dryf. Wat verstaan die hoof van die Hadidas nie. Daar moet moet eerder behoorlik ondersoek gedoen word na Ntlemeza aansteling. Dit is duidelik dat hy can al die goeie en eerlike lede ontslae wil raak. Mafiabaas se moses

Han ·

Watter deel van die Appèlhofuitspraak verstaan die Valke nie? Geregtigheid in hulle oë beteken alleen wanneer ‘n saak in hul guns beslis word. Dit gaan eintlik daarom om van Booyen ontslae te raak, want hy is wit.

Christo Pienaar ·

Nee man, jy verstaan dit verkeerd – net witmense is rassiste.

Pieter.v ·

Al die maaitjies wat in hoe poste aan gestel word, word deur Zuma gedoen .Hy omring hom met mense wat na sy wense dans en hom beskerm, so het hy ook vir Nene wat hom en die onbevoegde Dudu myeni tee gegaan het ontslae van geraak,so ook in die saak teen gen. maj.waar hy besig was in n saak om korrupsie bloot te le. So word alles wat korrup in die regering is onder die mat in gevee of sloer die sake lank en uitgerek en maak ons die regering se regslui skatryk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.