Valke fnuik ‘sluipmoordplan’ oor R34 miljoen

Argieffoto

Argieffoto

Die Valke het ʼn sakeman van Durban in hegtenis geneem wat glo sy sakevennoot wou laat vermoor om by ’n polis van R34 miljoen te baat.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het Woensdag gesê die sakeman het na bewering ʼn middelman gehuur om hom te help om ʼn sluipmoordenaar op te spoor om glo sy vennoot te vermoor.

“Die Valke het die inligting ontvang en die misdaadintelligensie-eenheid betrek. ʼn Polisiebeampte het hom as die huurmoordenaar voorgedoen en ʼn transaksie met die middelman beklink,” het Mulaudzi gesê.

“Die Valke het die ‘moord’ op die vennoot opgestel en binne 30 minute ná die ‘moord’  is R10 000 aan die beampte vir sy dienste betaal.”

Die middelman is in hegtenis geneem en het die Valke na die sakeman se huis gelei. Die Valke het hom daar in hegtenis geneem en ʼn 9mm-pistool gekonfiskeer. Hulle het ook beslag gelê op ʼn blou lig van die polisie en ʼn polisieradio wat die ‘sluipmoordenaar’ tydens die plan moes gebruik.

Albei verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Durban-landdroshof verskyn op aanklagte van sameseswering om ʼn moord te pleeg, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en die besit van polisietoerusting.

“Dit was nie die eerste keer wat die sakeman sy vennoot probeer vermoor het nie. Op 2 Julie is die slagoffer deur twee mans na sy huis agtervolg ná ʼn konferensie in Drummond. By sy huis is hy verskeie kere geskiet in wat aanvanklik as ʼn mislukte kapingspoging voorgekom het. Die slagoffer het egter die aanval oorleef, waarna die jongste poging gevolg het,” het Mulaudzi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

stoney ·

Bly ek het nie sulke vriende nie! ‘N man moet maar versigtig wees vandag. Wie kan jy vertrou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.