Valke gaan Pelgrimsrus-huurtenders ondersoek

Pelgrimsrus

Pelgrimsrus

Die Valke het bekendgemaak dat hulle ʼn hoëvlak-ondersoek van stapel gaan stuur om te bepaal of daar onreëlmatighede met huurtenders op Pelgrimsrus was as gevolg van die beweerde onreëlmatige betrokkenheid van amptenare.

Die VF Plus het Woensdag in ʼn verklaring gesê die ondersoek volg nadat die party verlede jaar die Openbare Beskermer (OB), Thuli Mandonsela, versoek het om onreëlmatige Pelgrimsrus-huurtenders te ondersoek.

Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, is die klag op 6 Julie verlede jaar ingedien namens 17 eienaars van sakeondernemings op die geskiedkundige myndorp wie se huurkontrakte op kort kennisgewing opgeskort is.

“Die feit dat die polisie se voorkeur-ondersoekeenheid vir ernstige misdaad die saak gaan ondersoek, dui op die erns van die klagte en die hoë profiel van die persone wat betrokke is,” het Alberts gesê.

“Sakemanne op die dorp is net 30 dae tyd gegun om hul winkels te ontruim sodat nuwe huurders hul persele ná ‘n tenderproses wat gekenmerk is deur onreëlmatighede, kon oorneem. Nuwe kontrakte is glo teen ‘belaglik lae huurgeld’ aan nuwe huurders toegeken. Baie van die nuwe huurders het dadelik hul huurkontrakte aan die oorspronklike huurders probeer terugsmous, wat duidelik wys dat die tenderproses misbruik is om vinnig geld te maak sonder om daarvoor te werk.”

Die OB het in haar ondersoek bevind die tenderproses het verskeie onreëlmatighede bevat en die VF Plus het dienooreenkomstig klagte van bedrog en korrupsie teen die betrokke amptenare, wat in die OB se verslag gemeld word, ingedien.

Mpumalanga se departement van openbare werke, paaie en vervoer het intussen die omstrede tenderproses op aanbeveling van die OB geskrap en gesê die proses moet van voor af gevolg word.

Adv. Alberts het gesê die aangeleentheid is ‘n groot oorwinning vir sakelui op die dorp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alet ·

Hulle het seker omkoop geLd gegee want as hulle nie steel is dit bedrog korupsie sover as wat hulle gaan die wiel draai stadig maar seker gedink die mense is dom ne

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.