Valke gevra om Wes-Kaapse speaker te ondersoek

Masizole Mnqasela

Die DA het die Valke versoek om die Wes-Kaapse regering se speaker te ondersoek nadat dokumente van fluitjieblasers ontvang is.

Die DA het Vrydag die dokumente, wat beskermde openbaarmakings deur fluitjieblasers bevat, aan die Valke oorhandig. Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, word daarvan beskuldig dat hy bedrog en/of korrupsie gepleeg het ten opsigte van verblyf-, reis- en onthaaltoelae-eise.

Tertuis Simmers, die DA se interimleier in die Wes-Kaap, het gesê die fluitjieblasers het onlangs vir Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, genader om hierdie bewerings aan te meld. Winde het hulle versoek om formele voorleggings te maak, gerugsteun deur stawende bewyse.

Die fluitjieblasers het Woensdag die beskermde openbaarmakings ingedien, met dokumentêre bewyse. “Hulle wil anoniem bly, ’n versoek wat ons respekteer. Soos vereis deur die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite, het die DA die saak by die Valke aangemeld vir ondersoek.”

Volgens Simmers duld die DA nie korrupsie nie en wanneer bewerings gegrond op bewyse opduik, word ampsdraers sonder vrees of guns verantwoordbaar gehou.

“Ons is trots op ons rekord van skoon regering en is diep bekommerd oor hierdie verwikkelinge.

Die DA het die saak ook by sy federale regskommissie aangemeld vir dringende ondersoek. Die party sal sy interne dissiplinêre prosesse volg om aanspreeklikheid te verseker, terwyl Mnqasela se reg om homself te verdedig in hierdie aangeleentheid, gerespekteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.