Valke-hoof moet pos ontruim

Valke

Argieffoto

Die DA het die hooggeregshof in Pretoria se beslissing dat genl.maj. Berning Ntlemeza, hoof van die Valke, onmiddellik sy pos moet ontruim, verwelkom.

“Ons versoek al lankal dat hy uit sy posisie verwyder moet word weens sy ongeskiktheid om in die pos te dien en sy prosedureel gebrekkige aanstelling,” het Zakhele Mbhele, DA-LP, gesê. “Ntlemeza moet die beslissing respekteer en sy kantoor onmiddellik ontruim.”

Volgens Mbhele het Ntlemeza geslaag in sy politieke doel, naamlik om Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, te teiken. “Die nuwe minister [van polisie] moet nou verseker dat die Valke ʼn onafhanklike misdaadbestrydingseenheid is en dat die hoof van die Valke ʼn persoon met integriteit is wat die belange van Suid-Afrika eerste stel.”

Fikile Mbalula, die nuwe minister van polisie, het Woensdag sy voorganger se aansoek om te appelleer teen die hof se vorige beslissing rakende Ntlemeza, teruggetrek. Mbalula sal intussen Donderdag ʼn mediakonferensie hou oor die pad vorentoe.

Nathi Nhleko, die voormalige minister van polisie, het verlede maand hofdokumente ingedien om te appelleer teen die hof se besluit dat sy aanstelling van Ntlemeza ter syde gestel moet word. Hy het die aansoek ingedien nadat die hooggeregshof in Pretoria beslis het Nhleko moet Ntlemeza se aanstelling ter syde stel. Die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL) het die aansoek ingedien om Ntlemeza se aanstelling ter syde te laat stel.

Nhleko het Ntlemeza aangestel ten spyte daarvan dat regter Elias Matojane in Februarie 2015 bevind het Ntlemeza was “bevooroordeeld en oneerlik” en het nie oor “integriteit en eerbaarheid” beskik nie.

“Genl.maj. Ntlemeza is aangestel in die hoogste pos van die republiek se korrupsie-en-misdaadbestrydingseenheid, ondanks verdoemende geregtelike bevindinge wat sy integriteit, eerlikheid en toepaslikheid om hierdie amp te beklee, bevraagteken.

“Sowel die HSS as FUL meen, gegrond op die redes wat die kantoor van die minister [Nhleko] verskaf het, dat die geregtelike bevindinge nie enigsins, of behoorlik oorweeg is nie,” het die organisasies aangevoer.

Ntlemeza is in Desember 2014 deur Nhleko as waarnemende hoof van die Valke aangestel nadat Anwa Dramat as hoof van die Valke geskors is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

As ‘n eerbare persoon aangestel word as nuwe hoof van die Valke, is die kanse soveel beter dat die Guptas suksesvol vervolg sal word vir die gepantserde militêre voertuig wat waarskynlik onwettig in hul besit is.

SP ·

Ek wag in spanning vir die Minister se nuuskonferensie later vandag!

Koos1 ·

Die DA vra dat hy uit sy pos verwyder moet word, maar wie het die hofsaak aanhange gemaak en betaal? Nie die DA nie! Ploeg hulle nou met ‘n ander man se kallers?

Mike de Beer ·

Sy stoel is onder hom uitgetrek maar wat van die meer onbevoegde ministers en President met meer klagtes voor hulle deur. Dan gaan hy sekerlik nog boonop met die gebruiklike goue handdruk sy baadjie vat en loop. Dus was hy deurentyd in ‘n wen wen situasie. Die lekker ou soustrein.

LV ·

Dalk kan hy en nommer 1 binnekort best practices uitruil hoe om brandsiek beeste te behandel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.