Valke-hoof wen in hof

Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Nathi Nhleko, minister van polisie, se aansoek om te appelleer teen ʼn bevel dat Anwa Dramat, hoof van die Valke, se skorsing tersyde gestel moet word, is in die hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys.

“Verlof tot appèl word geweier. Die bevel van 23 Januarie bly in werking en sal ten volle uitgevoer word,” het regter Bill Prinsloo gelas.

Nhleko is beveel om die Helen Suzman-stigting se regskostes te betaal. Die stigting het die aansoek gebring waarin versoek is dat Dramat heraangestel moet word.

Dramat moes al twee weke gelede teruggekeer het werk toe nadat Prinsloo beslis het sy skorsing was onwettig en ongeldig. Prinsloo het ook beveel dat Nhleko se besluit om genl.maj. Berning Ntlemeza as waarnemende hoof van die Valke aan te stel, onwettig en ongeldig was.

Nhleko was egter van mening dat ʼn ander hof tot ʼn verskillende beslissing sou kom. Die polisie het aangevoer dat Dramat nie toegelaat sal word om terug te keer werk toe tot die appèlproses afgehandel is nie.

Dramat is op 23 Desember geskors hangende ʼn ondersoek oor sy beweerde betrokkenheid by die onwettige uitlewering van vier Zimbabwiërs in November 2010.

Lees alle vorige berigte oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize ·

Wonder maar net is Nhleko in n hoek? Weet Dramat dalk meer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.