Valke kap SAKP oor ‘kwaadwillige beskuldigings’

Valke

Argieffoto

Die Valke het Woensdag heftig gereageer oor die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) se “kwaadwillige beskuldigings” teenoor die Valke-hoof, Berning Ntlemeza.

Maroela Media het vroeër berig die SAKP het gesê die Valke se vervolging van Pravin Gordhan, die minister van finansies, is polities gemotiveerd en word deur “faksie- en private agendas” gedryf.

Brig. Hangwani Mulaudzi, die woordvoerder van die Valke, het in ʼn verklaring gesê die Valke het “met skok en teleurstelling” verneem van die party se beskuldigings teenoor die organisasie en Ntlemeza. “Ons wil graag die SAKP herinner daaraan dat die Valke slegs een mandaat het en dit is om ernstige misdade, korrupsie en handelsmisdaad hok te slaan, te voorkom en ondersoek,” het Mulaudzi gesê.

Hy het hom ook uitgespreek teen die SAKP se bewerings dat hulle gehoor het hoe Ntlemeza aan ʼn “derde party” sê sy volgende teiken sal Madoda Sambatha, ʼn LUR van Noordwes, wees. “Dit is vreemd dat die party die naam van die persoon wat hierdie beweerde gesprek gehoor het, beskerm. Ons daag die SAKP uit om ʼn saak by die polisie aanhangig te maak en dan hul bewyse voor ʼn hof te bring,” het Mulaudzi gesê.

“Deur hul kwaadwillige beskuldigings by die owerhede aan te meld, kan hulle ten minste net hul uitsprake bewys eerder as om na die media te hardloop in ʼn poging om die nasionale hoof van die Valke te verhoed om sy verpligtinge sonder vrees of vooroordeel uit te voer. Die Valke ondersoek nie sake deur die media nie en sal in geen stadium die SAKP of enige ander individue betrek by ons ondersoeke nie.”

Die SAKP se uitsprake kom nadat bewerings Sondag aan die lig gekom het dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Gordhan dalk binnekort in hegtenis kan laat neem vir sy beweerde betrokkenheid by ʼn ‘rogue’-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Lees alle vorige berigte oor Pravin Gordhan op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henk Venter ·

AS die Valke dan nou sodanig objektief is, en ernstige misdaad, korrupsie en handelsmisdaa ondersoek, kan hierdie grootbek “offisiere” dan nou aan die SA publiek verduidelik waarom daar nog GEEN ondersoek gedoen is na die mees korrupte man in hierdie land nie? Wat het van die sake geword wat tot nou toe teen Zuma oopgemaak is? Waarom word die korrupsie rondom Zuma, die Guptas, en die uitgebreide Zuma netwerk NIE ondersoek nie?
Dalk omdat dit die uitsluitlike doel van die Valke is om die hoogste vlak van korrupsie uit die land se howe te hou?

Manie ·

Presies!! Jy slaan die spyker op sy kop.
Die Mafia bende gaan moeilik gestop word

Vra net ·

Hmmmm, Henk, vra ek en baie ander mos ook. Dit laat nens wonder. Die volgehoue heksejag teen sekere persone is baie ooglopend. Dit lyk asof spesifieke persone is in sleutelposisies geplaas word om ander te beskerm teen vervolging en diégene wat hul werk rég doen, aanhoudend te vervolg om hul sodiende uit die pad te probeer kry. Minister Gordhan moet dalk sy eie vervolgingsaksie teen die Valke en álmal wat hom probeer diskrediteer begin. Iewers moes iemand iets gedoen het wat nog nie onder die mat ingevee is nie.

tina ·

“Ons wil graag die SAKP
herinner daaraan dat die Valke slegs een
mandaat het en dit is om ernstige
misdade, korrupsie en handelsmisdaad hok
te slaan, te voorkom en ondersoek,” het
Mulaudzi gesê. ….nee wat, waarom is die president dan verhewe bo die wet? Moet asb
nie pns inteligensie onderskat :((…julle klink en tree op soos die gestapo.

cherokee ·

Een kant van die muntstuk wat nie misgekyk moet word nie is die feit dat Gordhan lid van die ANC is. Hy is lid van dieselfde ANC-regering wat heeldag fel onder ons kritiek seurloop.

Henk Venter ·

Inderdaad so cherokee, maar ons moet ook nie vergeet dat Gordhan aan Zuma opgedwing is nie. Dat daar aanvanklik van hom ontslae gerak is, juis omdat hy dinge vir Zuma en sy korrupte huisvriende begin warm maak het nie. En dat hy nou weer olie op die vuur is vir die Zupta beweging nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.