Valke-kaptein doodgeskiet

Kapt. Qeya Jonas Tshabalala. Foto: Verskaf

ʼn Kaptein verbonde aan die Valke is Donderdagaand in Bloemfontein doodgeskiet terwyl hy op ʼn klagte gereageer het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, het gesê die beampte, kapt. Qeya Jonas Tshabalala (52) wat verbonde was aan die Bloemfonteinse eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, is omstreeks 20:45 doodgeskiet toe hy na ʼn klagte in Taustraat in Bloemanda omgesien het.

“Twee of drie onbekende aanvallers het in die huis ingekom en voor die voet begin skiet. Die kaptein het teruggeskiet en een van die verdagtes gewond. Hy is egter ook verskeie kere geskiet en is op die toneel dood,” het Mulaudzi.

Die verdagtes het in Tshabalala se ampsvoertuig op die vlug geslaan met sy werkselfoon en dienspistool. Die voertuig is later verlate in Dewetsdorp opgespoor. Daar was bloed binne die voertuig.

Lt.genl. Yolisa Matakata, waarnemende nasionale hoof van die Valke, het die “sinnelose moord” veroordeel.

“Dit is onaanvaarbaar en skokkend dat een van ons lede vermoor is. Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om ons by te staan met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei,” het Matakata gesê.

“Daar is êrens ʼn verdagte wat beseer is en dié sal een of ander tyd mediese behandeling benodig. Ons doen ʼn beroep op alle hospitale en klinieke om hul naaste polisiestasie te bel as hulle op so ʼn persoon afkom.”

Matakata het haar innige meegevoel met Tshabalala se familie, vriende en kollegas betuig. “Ons sal geen steen onaangeroer laat totdat die skuldiges tot verantwoording gebring word nie,” het sy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Al ·

Dis hartseer, maar nou moet die polisie besef dat alle sinnelose moorde gejag moet word, sodat ons samelewing bevry kan word van die euwel wat mense se siele knak.

Oom Kalahari ·

Min Bheki Cele, gaan jy toelaat dat hierdie skiet piete op so manier jou Polisie personeel uitmoor. Hul is misdadigers wat geen gevoel het vir mensof dier. Die vuurpeleton is ‘n opsie. Hulle vrees glad nie die polisie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.