Valke keer nege aan vir korrupsie

Argieffoto: www.corruptionwatch.org.za

ʼn Week lange operasie deur die Valke en Limpopo se departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme het uitgeloop op die inhegtenisneming van nege verdagtes in verband met beweerde korrupsie en bedrog.

In die eerste geval is vyf verdagtes, onder wie amptenare van die departement en ʼn polisiebeampte van die Tubatse-polisiestasie, aangekeer ná bewerings dat hulle dranklisensies goedgekeur het sonder dat hulle die korrekte prosedure gevolg het.

Die vyf het na bewering tussen 2012 en 2017 saamgesweer om enorme omkoopgeld van voornemende aansoekers te eis.

Kapt. Matimba Maluleke, Valke-woordvoerder, sê die vyf het na bewering tussen 2012 en 2017 saamgesweer om enorme omkoopgeld van voornemende aansoekers te eis. Al die verdagtes is gedagvaar om op 14 Desember vanjaar op aanklagte van korrupsie en bedrog in die Sekhukhune-landdroshof te verskyn.

In die Valke se tweede deurbraak het hulle ʼn adjunkdirekteur van die Kutama Senthumule-gevangenis en sy vermeende medepligtige in onderskeidelik Thohoyandou en Polokwane in verband met bedrog en korrupsie in hegtenis geneem.

Maluleke sê dit blyk dat die adjunkdirekteur, wat ʼn verkrygingsbeampte by die korrektiewe sentrum is, en sy vermeende medepligtige, ʼn sakevrou van Polokwane, buitensporige pryse gehef en die opbrengs onder hulle verdeel het.

Hulle kom na verwagting op 11 Desember vanjaar in die landdroshof op Louis Trichardt voor.

In ʼn afsonderlike voorval is die staatsaanklaer Herbert Serumule (46) by sy werkplek in Morebeng, sowat 45 km suid van Louis Trichardt, in hegtenis geneem vir beweerde korrupsie, bedrog en regsverydeling.

Die verdagte het glo die eerste paaiement van die omkoopgeld betaal, waarna die saak inderdaad teruggetrek is.

Volgens Maluleke het Serumule ʼn verdagte genader en glo omkoopgeld gevra om sy saak “te laat verdwyn”. Die verdagte het glo die eerste paaiement van die omkoopgeld betaal, waarna die saak inderdaad teruggetrek is.

“Maar na bewering het Serumule die uitstaande bedrag van die verdagte geëis,” sê Maluleke, “waarna die Valke in kennis gestel is en die staatsaanklaer op Maandag 19 November in hegtenis geneem is.”

Serumule het reeds in die landdroshof op Morebeng verskyn en is vrygelaat op R1 000-borgtog, toe sy saak uitgestel is tot 18 Januarie aanstaande jaar.

In die vierde voorval is ʼn 33-jarige skoonmaker van die Mecklenburg-hospitaal, sowat 40 km noordwes van Burgersfort, vir korrupsie in hegtenis geneem.

Dit kom nadat die provinsiale departement van gesondheid in 2015 talle poste geadverteer en die verdagte na bewering die kans aangegryp het om werksoekers ʼn rat voor die oë te draai.

Sy het na bewering een van hulle genader en belowe sy kon haar, teen betaling, van ʼn werk verseker.

Sy het na bewering een van hulle genader en belowe sy kon haar, teen betaling, van ʼn werk verseker. Die slagoffer het glo ʼn deposito betaal in die verwagting dat sy ʼn werk sou kry, maar niks het daarvan gekom nie.

Die ontstoke slagoffer het die saak by die owerheid aangemeld, wat die Valke in kennis gestel het. Die Valke se ondersoek het tot die skoonmaker se inhegtenisneming gelei. Sy moet op 12 Desember in die Praktiseer-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alida ·

Dit is angswekkend hoe betrokke staatsamtenare betrokke raak.

Stripes ·

Staatsamptenare – Wys hoe korrup die staat is – meestal SAPD-lede en nou die staatsaanklaers ook al? Ons het nie meer ‘n regsstelsel in die land nie.

Sanet ·

Ek het al baie gewonder hoe sekere mense in sekere poste opgeeindig het. Nou verstaan ek ook. Wat n gemors!!! Waar kom hierdie mense aan dit wat hulle aanvang?? Net mooi NIKS word op n eerlike manier gedoen nie, geen wonder die land val uitmekaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.