Valke kry weer nuwe woordvoerder

valkeDie polisie het Vrydag aangekondig dat ʼn nuwe waarnemende woordvoerder vir die Valke aangestel is.

Paul Ramaloko, die woordvoerder wat destyds by McIntosh Polela oorgeneem het nadat Polela afgedank is oor ʼn omstrede uitlating op Twitter, is na die nasionale polisie se mediakantoor geskuif.

Ramaloko word vervang deur brig. Hangwani Mulaudzi, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo as waarnemende woordvoerder van die Valke.

“Ramaloko is nie geskors nie,” het lt.genl. Solomon Makgale, nasionale polisiewoordvoerder, gesê. “Dit is slegs tydelik en nie permanent nie. Mulaudzi bly die amptelike hoof van kommunikasie in Limpopo.”

Makgale het dit duidelik gemaak dat Ramaloko nooit as die permanente woordvoerder van die Valke aangestel is nie. “Hy was slegs die waarnemende woordvoerder sedert Polela die Valke verlaat het. Hy skuif nou terug na sy oorspronklike posisie by die mediakantoor. Dit was nooit die bedoeling om hom permanent by die Valke te hou nie.”

Makgale het gesê Ramaloko is tevrede met die oorplasing, en bly om terug te skuif na waar hy was.

Anwa Dramat, hoof van die Valke, is op 23 Desember geskors hangende ʼn ondersoek rakende sy beweerde betrokkenheid by die onwettige uitlewering van Zimbabwiërs in 2010. Lees meer hier.

Genl.maj. Shadrack Sibiya, die hoof van die Valke in Gauteng, het op 5 Januarie ʼn kennisgewing ontvang dat hy geskors gaan word. Dit hou glo ook verband met die onwettige uitlewering van die Zimbabwiërs. Kol. Leslie Maluleke, senior beampte by die Valke, het na bewering ook ʼn kennisgewing van skorsing ontvang.

Polela is in Mei 2013 amptelik afgedank nadat hy in Oktober 2012 getwiet het: “Ek vertrou dat Jub Jub se ondersteuners vir hom ʼn pot Vaseline gegee het om saam met hom tronk toe te neem.”  Sy uitlatings het gekom nadat die musikant Molemo “Jub Jub” Maarohanye en Themba Tshabalala op vier aanklagte van moord, twee van poging tot moord en die gebruik van dwelms skuldig bevind is. Vier kinders is dood nadat Maarohanye en Tshabalala in Maart 2010 resies gejaag en in die groep kinders ingeploeg het. Polela het later om verskoning gevra vir sy uitlatings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.