Valke maak deurbraak in reusebedrogsaak

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het vandeesweek ʼn reusedeurbraak in ʼn multimiljoenrandbedrogsaak gemaak toe die twee hoofverdagtes in die saak in hegtenis geneem is.

Eusuf Fehaaz (42) en David Larkan (58) het Woensdag hulself aan die owerhede oorgegee vir die aandeel wat hulle glo daarin gehad het om R35 miljoen van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) op ʼn bedrieglike wyse te bekom.

Fehaaz, direkteur van die Durban-gebaseerde kleinhandelmaatskappy Glodine (Pty) Ltd, en Larkan, sy rekenmeester, het glo in Oktober 2017 ʼn bedrieglike ouditverslag ingedien toe hulle aansoek gedoen het om finansiering by die NOK.

“Die NOK het ná afloop van die suksesvolle aansoek ongeveer R35 miljoen in die maatskappy se sakebankrekening oorgeplaas vir ontwikkelingsprojekte,” sê kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke.

“Deur interne forensiese ontleding het die NOK egter ontdek dat Glodine nie die R10 miljoen-surplus in sy sakerekening het, soos in hul ouditverslag vermeld is nie.”

Die saak is by die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in Johannesburg aangemeld vir verdere ondersoek.

Die Valke het daarin geslaag om op die maatskappy se bates beslag te lê, asook sowat R25 miljoen wat aan die NOK behoort.

ʼn Lasbrief vir Fehaaz en Larkan se inhegtenisneming is uitgereik, maar dié twee het hulself eers Woensdag aan die polisie oorgegee.

“Die verdagtes is in hegtenis geneem en van bedrog aangekla. Hulle is na die Palm Ridge-landdroshof geneem en het nog dieselfde dag in die hof verskyn,” sê Mulamu.

“Die beskuldigdes is borgtog van onderskeidelik R10 000 en R5 000 toegestaan.”

Die saak sal op 27 Junie in die hof voortgesit word.

Genl.maj. Ebrahim Kadwa, provinsiale hoof van die Valke, het die Valke-lede betrokke in die ondersoek na die saak geloof vir die deurbraak.

“Ons verwag ʼn suksesvolle en welverdiende skuldbevinding in hierdie aangeleentheid,” sê Kadwa.

“In hierdie land is daar baie klein ondernemings wat finansiering benodig om hul gemeenskappe te ontwikkel, maar hulle is nie altyd suksesvol nie as gevolg van misdade soos hierdie.”

Volgens Kadwa is dit duidelik uit die beweerde gedrag van die beskuldigdes dat hulle hoofdoel was om die administrasie van die NOK te kelder, deur van ander opkomende entrepreneurs wat finansiering benodig, te steel.

“Die beskuldigdes se inhegtenisneming is ʼn stap in die rigting van ʼn beter Suid-Afrika, met minder misdadigers in ons gemeenskappe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Henri ·

En wat van die bevindinge in die Zondo-verslag ten opsigte van staatskaping? Wanneer word al die mense wat betrek word gearresteer? Hulle individuele skade aan ons ekonomie laat R35miljoen na ‘n poep in ‘n donderstorm lyk.

Vernon ·

Struggle boeties van mekaar,dis waarom daar niks gaan gebeur nie,hulle sorg vir mekaar. Zondo -verslag is net n rookskerm sodat dit lyk of hulle iets wil doen.

domheks ·

Nog steeds die klein vissies, wanneer kom die kaders aan die beurt? Ons wag in spanning…

Wondermaarnet ·

Hulle probeer die publiek se aandag aflei van die kaders deur te hammer op die klein vissies. So speel hulle vir tyd namens die kaders.

Dup ·

Die een REUSE bedrogsaak na die ander.Dit sal nooit ophou nie.Om skelm te wees is ‘n voltydse beroep in SA.

Lillian ·

Dit help veel .. daai geld is klaar weg … vat maar daai R25 miljoen en in stede daarvan om dit ook te laat verdwyn in the tesourie se kas, gee dit dadelik vir ‘n ander besigheid wat dit korrek sal aanwend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.