Valke ondersoek 4 munisipaliteite in Wes-Kaap

Vier munisipaliteite in die Wes-Kaap word deur die Valke ondersoek vir bedrog, korrupsie en rampokkery.

Masizole Mnqasela, DA-lid van die provinsiale wetgewer, het vroeëre berigte dat 11 munisipaliteite ondersoek word, betwis en gesê dit geld net vir die George-, Kannaland, Beaufort-Wes- en Oudtshoorn-munisipaliteite.

“Daar was in April ʼn klopjag deur die Valke by die George-munisipaliteit. Die munisipaliteite word ondersoek vir beweerde bedrog en korrupsie – Kannaland vir rampokkery, en Oudtshoorn en Beaufort-Wes vir beweerde bedrog en korrupsie.”

Mnqasela het gesê die ondersoeke by Kannaland, Oudtshoorn en Beaufort-Wes hou met sake verband wat ontstaan het voor die verkiesing in 2016.

“Ek wil minister Anton Bredell en die departement van plaaslike regering weereens loof aangesien hulle inligting oor die bewerings by die George-munisipaliteit aan die Valke gegee het en daar binne agt dae ná die vergadering ʼn klopjag was.”

Mnqasela het gesê hulle is vasbeslote om enige vorm van wanadministrasie in munisipaliteite uit te roei aangesien dit die primêre verantwoordelikheid van die owerhede is om te verseker dat inwoners toegang het tot al die basiese dienste.

“Dit is volkome onaanvaarbaar dat geld wat toegewys word om inwoners se lewe te verbeter glo gebruik word om ʼn handjievol mense te verryk.”

Hy het gesê die departement van plaaslike regering ondersoek onbehoorlike aantygings in die Bitou-munisipaliteit rakende die aanstelling van die hoof van korporatiewe dienste. Die Cederberg-munisipaliteit word ondersoek vir beweerde tenderonreëlmatighede rakende beursfondse terwyl die Stellenbosch-munisipaliteit ook oor onreëlmatighede ondersoek word.

“Die departement het ook uitdagings rakende die verskaffingsketting in die Theewaterskloof-munisipaliteit na provinsiale tesourie verwys vir verdere ondersoek en ondersteuning. Die beweerde verkoop van openbare grond in die Langeberg-munisipaliteit is ook na die kantoor van die premier se regsdienste vir ondersoek verwys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annie ·

Ondersoek alle munisipaliteite veral waar die inbeheer luukse motors ry met luukse huise. Vreemd dat net DA beheerde munisipaliteite ondersoek word waar daar korrupsie bedrog en selfveryking is in al die ander bankrot en nie bankrot munisipaliteite.

Anoniem ·

Asb annie maak seker van jou feite voor jy kommentaar lewer. Die berig sê voor 2016 en voor dan was die anc in beheer by oudtshoorn.

Rampokker ·

En dan kom hulle niks oor as hulle skuldig bevind word nie .. hulle word net na ‘n ander afdeling verskuif .. en hoef nooit die geld terug te betaal nie .. Of die BELASTINGBETALER moet weer opdok .. die ONDERSOEKE mors net geld.

Johannes van Rooyen ·

Wonder deur hulle beheer word sal like om te weet

piper ·

die bestuur van munisipaliteite wat miljoene skuld vir water en elektrisiteit kom niks oor nie en is nog steeds in hulle poste met vet salaris.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.