Valke ondersoek Fifa-sokkerskandaal; Amerika sal swye verbreek

Argieffoto

Argieffoto

Die Valke gaan die VF Plus se klag gaan ondersoek dat hooggeplaaste Suid-Afrikaners betrokke was by bedrog rondom Fifa se 2010-Wêreldbekersokkertoernooi.

Daar is vroeër berig dat net ʼn voorlopige ondersoek gedoen is, en dat dit laat vaar is.

“Cynthia Harvey, Amerika se pers-attaché in Suid-Afrika, het Vrydagoggend onderneem om vrae van die VF Plus hieroor te beantwoord na gesprekvoering met die verantwoordelike persone nadat Amerikaanse personeel tot nou toe glad nie daaroor wou praat nie,” het Anton Alberts, woordvoerder van die VF Plus, in ʼn verklaring gesê.

Oor die Valke-ondersoek het brig. Hangwani Mulaudzi, die Valke se woordvoerder, gister per e-pos aan die VF Plus erken dat die ondersoek wel voortgaan, en hy het gevra dat die speurders “ruimte gegun moet word om ʼn deeglike ondersoek te doen”.

“Mulaudzi heg onder meer gesê die ondersoek na die bewerings, dat Suid-Afrika $10 miljoen se omkoopgeld vir die regte vir die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi betaal het, van só aard is dat dit nie ‘oornag’ afgehandel kan word nie, en dat terugvoer weldra gegee sal word,” het Alberts bygevoeg.

Die VF Plus het aan die begin van Junie die klag ingedien, en die klagstaat van die FBI, soos dit deur Amerika se prokureur-generaal voorgehou is, is as grondslag vir die klag gebruik. Middel verlede maand is in die media berig dat die ondersoek laat vaar is.

Die VF Plus het in die besonder gevra dat ondersoek gedoen moet word na die bewering dat Danny Jordaan, hoof van die Suid-Afrikaanse sokkerfederasie (Safa) en nuut verkose burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, die betaling gemagtig het.

Die rol van die voormalige Safa-baas, Molefi Oliphant, wat glo ʼn brief geskryf het om aan te beveel dat die geld bestuur moes word deur die voormalige Fifa-grootbaas Jack Warner, vorm deel van die klag.

Alberts sê die VF Plus is verheug dat die ondersoek nie laat vaar is nie. “Tot die Amerikaners ons vrae beantwoord, sal dit onduidelik wees of dit moontlik vanweë druk van die FBI is dat die Valke besluit het om tog met die ondersoek voort te gaan. Die VF Plus sal die proses deurlopend volg om seker te maak geregtigheid seëvier,” het hy bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor Fifa op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet Schabort ·

En so hou die wiel aan met draai. Soms stadig, soms vinniger en daarmee saam ook uiteindelik die vasdraai.

CHRISTA ·

Dalk sal dit NOU op die lappe kom hoe deurdrenk ons regering met korrupsie is!! Dan sal die buiteland sien dat ons nie net ‘n bohaai maak oor niks nie!!!

Frik Lotz ·

Puik gedoen deur die VF Plus. Gaan voort met die uitstekende werk.

Han ·

“Al jaag die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal dit wel.”

JZ ·

Leuens agterhaal,nee die ANC is te slim en bly voor met ontkenings en verontskuldigings.miskien sien ons nog dat dit apartheid die skuldige is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.