Valke ondersoek nie geskorste baas se ongeluk

Shadrack Sibiya Foto: Voice FM

Shadrack Sibiya Foto: Voice FM

Die Valke het Sondag bevestig dat hy nie ʼn ongeluk waarby sy geskorste hoof in Gauteng, Shadrack Sibiya betrokke was, ondersoek nie.

“Daardie ondersoek word deur die polisie gedoen, hulle hanteer dit,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê. Hy het gesê die Valke sal slegs bepaal of Sibiya enige hulp nodig het. “Ons het die Gauteng-kantoor gevra om die saak te ondersoek en te bepaal of daar die generaal enige bystand benodig, ongeag die kwessies wat aan die gang is. Ons wil seker maak ons sorg vir ons lede.”

Sibiya is Maandag beseer toe die motor waarin hy en sy prokureur Victor Nkwashu gery het, omgeslaan en gerol het. EWN berig hy het ‘n paar ribbes en sy sleutelbeen gebreek. Nkwashu het geringe beserings opgedoen. Klik hier om meer te lees.

City Press het Sondag berig die Valke ondersoek ʼn saak van roekelose of nalatige bestuur teen Sibiya en hoe hy ʼn BMW X6 kan bekostig. Mulaudzi het gesê die Valke kan nie op die berig kommentaar lewer nie. “Ons wil dit nie eers aanraak nie,” het hy gesê. “Ons is nie in een of ander heksejag betrokke nie.”

Sibiya staan sy skorsing teen in die hof. Hy en geskorste Valke-hoof Anwa Dramat word daarvan beskuldig dat hulle die onwettige uitlewering van vyf Zimbabwiërs in 2010 gereël het. Die behoorlike prosedures is glo nie gevolg nie en twee van die mans het glo in die Zimbabwe-polisie se aanhouding gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.