Valke ondersoek rooftog by Bedford-winkelsentrum

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Die Valke het die ondersoek na Donderdag se rooftog en skietery by die Bedford-winkelsentrum in Johannesburg oorgeneem.

Lt.kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het Vrydag bevestig dat die saak na die Valke verwys is.

Sy het gesê nog net twee van die groep rowers is tot dusver in hegtenis geneem. Beeld het berig een van die verdagtes is ʼn baasbrein, maar Mogale asook brig. Hangwani Mulaudzi, die Valke se woordvoerder, het dit verwerp.

“Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, is onder polisiebewaking in die hospitaal,” het sy gesê.

Sewe mense, insluitend die twee vermeende rowers, is tydens die voorval beseer. Drie van die beseerdes is inkopiegangers en twee is veiligheidswagte.

Mulaudzi het gesê die beseerdes is na verskillende hospitale geneem en sterk daar aan.

Die polisie het Donderdag gesê veiligheidswagte het kontant in die winkelsentrum afgehaal toe hulle omstreeks 11:00 deur ʼn groep gewapende rowers voorgekeer is. ’n Skietery het uitgebreek en sommige inkopiegangers het in die kruisvuur beland. ʼn Onbekende bedrag kontant is gesteel.

Mulaudzi het gesê forensiese ondersoekbeamptes het regdeur die nag gewerk om bewyse in te samel.

Daar word vermoed dat 10 verdagtes by die voorval betrokke was. Hulle was met AK47’s en pistole gewapen.

“Hierdie is baie gevaarlike misdadigers. Hulle het ʼn misdaad binne ʼn winkelsentrum uitgevoer waar hulle geweet het baie mense sou wees. Dit wys hulle het geen agting vir mense se lewens nie,” het Mulaudzi gesê.

Die ondersoek duur voort en die twee verdagtes word deur die Valke ondervra.

Klik hier om meer foto’s van en ʼn video oor die voorval te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.