Valke ondersoek vier sake ná Fukula-bewerings

Lubabalo Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap. (Foto: Facebook)

Die Valke het bevestig dat hy minstens vier sake ondersoek wat verband hou met beweerde korrupsie, intimidasie, meineed en laster wat spruit uit inligting wat Phadima Fukula onlangs bekend gemaak het.

Fukula is ʼn fluitjieblaser wat beweer die premier van die Oos-Kaap, Lubabalo Oscar Mabuyane, het in 2017 vir hom geld gegee om aan ʼn regter in Noordwes te oorhandig. Luidens berigte het Fukula aangevoer hy het, in aanloop tot die ANC se verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg, as ʼn aktivis op ANC-takvlak begin werk. Hy het glo ʼn opdrag van Mabuyane gekry om hom te ontmoet en is na bewering aangesê om R5 miljoen aan ʼn regter te gaan gee.

Fukula het verlede maand spoorloos verdwyn nadat hy die bewerings gemaak het. Die Valke het Donderdag ʼn beroep op die publiek gedoen om na vore te kom met enige inligting oor waar die 29-jarige Fukula hom moontlik bevind.

“Daar word geglo dat hy kan help om bewerings van intimidasie en korrupsie wat deur die ernstige korrupsie-eenheid [van die Valke] in Oos-Londen ondersoek word, te ontsluit,” het kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, gesê.

Volgens Mgolodela is Fukula glo ʼn getuie van die intimidasiesaak wat op 30 Maart vanjaar in Oos-Londen aanhangig gemaak is. Op 9 April het die ondersoekspan ʼn onderhoud met hom gevoer waartydens hy gevra het vir ʼn kort breek en daarna nooit weer teruggekeer het nie.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het Dinsdag gesê die Valke maak nie gewoonlik die name van die klaers in enige van sy sake bekend nie. “In hierdie geval het die inligting nou openbare kennis geword, óf weens die klaers self, of deur die media,” sê Nkwalase.

Die Valke sê sy ondersoek hou verband met ʼn saak wat in Gauteng aangemeld is oor ʼn voorval in Noordwes, asook drie sake wat in die Oos-Kaap aangemeld is.

Een van die sake is ʼn klagte van meineed en laster wat Mabuyane nou teen Fukula aanhangig gemaak het. Nog een is ʼn saak wat Fukula teen die premier aanhangig gemaak het, en een van die sake het die Valke self aanhangig gemaak.

“Al vier sake wat verband hou met die bewerings word gesamentlik ondersoek, en dit sal help dat ons by die waarheid uitkom,” sê Nkwalase.

“Niemand moet enige afleidings maak nie. Die prokureurs wat by sommige van die sake betrokke was, weet van beter.

“Diegene wat inligting het wat met die ondersoek kan help, moet die ondersoekspan kontak eerder as om mediaverklarings te maak wat ander moontlike getuies kan beïnvloed.”

Nkwalase sê die Valke is ook bekommerd dat die “verkeerde inligting” wat in mediaberigte versprei word, teenstrydig is met die eedsverklarings in die dossiere.

Die premier het Fukula se bewerings vandeesweek as “onbenullig” bestempel en hom ʼn leuenaar genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois ·

Moenie bo-op die grond soek nie. Soek ses voet onder. Dis hoe die mense werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.