Valke ontken klopjag is oor Zuma-spioenasiebande

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Jacob Zuma. Foto: GCIS

‘n Klopjag by ‘n personeellid van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se huis was om bewerings van korrupsie te ondersoek en nie ‘n soektog na die sogenaamde spioenasiebande nie, het die Valke Vrydag gesê.

“Ek kan bevestig dat ons ‘n wettige lasbrief bekom het om slegs een personeellid se huis te deursoek,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Die soektog was na aanleiding van inligting wat ons ontvang het oor bewerings van korrupsie … dit het niks te doen met die spioenasiebande nie.”

Die Mail & Guardian berig dat daar ure voor president Jacob Zuma se aankondiging van ‘n ondersoek na Mxolisi Nxasana, hoof van die NVG, klopjagte by die huise van verskeie NVG-personeellede was.

Volgens die berig was die klopjagte, wat verlede week Vrydag plaasgevind het, ‘n soektog na die omstrede Zuma-spioenasiebande.

Die spioenasiebande, transkripsies en ander dokumente hou verband met ‘n besluit deur die NVG in 2009 om korrupsieaanklagte teen Zuma te laat vaar.

Dit het verlede maand aan die lig gekom dat Jeff Radebe, voormalige minister van justisie, vir Nxasana gevra het om te bedank aangesien hy glo nie genoem het dat hy in 1985 van moord aangekla en vrygespreek is nie.

Volgens die Mail & Guardian was die klopjag ‘n “paniekerige poging” deur Nxasana om die opnames te kry voor hy deur Zuma geskors word. – Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.