Valke ontken klopjag was op “verkeerde huis”

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

Die Valke het Woensdag ontken dat hulle op die verkeerde huis in Sandton toegeslaan het tydens ʼn operasie teen onwettige diamanthandel.

“Dit was nie die verkeerde huis nie, dit was die regte huis,” het Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, aan Sapa gesê. “Dit was volgens ons inligting die regte adres en ons het ʼn lasbrief bekom om die eiendom te deursoek, maar ons het niks gevind nie.”

Ramaloko het reageer op ʼn berig in The New Age dat lede van die Valke by die verkeerde huis ingebars het. Die koerant berig dat ʼn gepantserde voertuig teen die huis se voorhek vasgery het en dat die elektriese heining en vensters en deure tydens die klopjag beskadig is.

Jennifer Peers, die eienaar van die huis, was saam met ʼn negejarige meisie en ʼn drie maande oue baba by die huis toe die klopjag daar uitgevoer is. Sy beweer die polisie het hulself nie geïdentifiseer of verduidelik hoekom hulle daar is nie. Sy het aan die koerant gesê haar huis se deure is afgebreek en die beamptes het gedreig om haar honde te skiet as sy die diere nie toesluit nie.

Die negejarige meisie was glo só vreesbevange dat sy met haar teddiebeer in ʼn kas gaan wegkruip het.

Ramaloko het erken dat daar skade aangerig is by die huis, maar sê die huiseienaars ontvang die nodige ondersteuning. “Die kinders het dieselfde dag berading ontvang en ons het met die versekeringsmaatskappy geskakel oor die skade wat aangerig is,” het hy gesê.

Ramaloko sê die operasie genaamd “Projek Darling” is in 2012 begin en teiken diamanthandelsindikate in Suid-Afrika.

Hy sê daar is die afgelope weke klopjagte in Johannesburg en Kimberley uitgevoer en daar is reeds beslag gelê op meer as R4 miljoen se kontant, 66 diamante, 16 digitale skale, skootrekenaars, voertuie, twee vuurwapens, ammunisie en ʼn olifanttand.

Ramaloko sê 26 mense is reeds in hegtenis geneem en van die verdagtes het reeds in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.