Valke ontken korrupsieklagte teen 3 ministers

Valke

Argieffoto

Lt.genl. Berning Ntlemeza, hoof van die Valke, het uitgevaar teen berigte dat daar strafregtelike aanklagte teen drie ministers en die Gupta-familie aanhangig gemaak is.

Ntlemeza het reageer op ʼn berig in die Sunday Times dat aanklagte van korrupsie teen Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, Rob Davies, minister van handel en nywerheid, en Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, aanhangig gemaak is.

Volgens Ntlemeza is die gerugte “ongegrond en kwaadwillig”. Ntlemeza het wel bevestig dat die Valke ʼn beëdigde verklaring van Vytjie Mentor, voormalige ANC-parlementslid, ontvang het en dat die inhoud daarvan ondersoek word.

“Die inhoud van die verklaring kan nie bekendgemaak word nie, aangesien dit nou ondersoek word deur die Valke se teenkorrupsie-eenheid.” Volgens Ntlemeza is daar egter nog nie ʼn dossier oopgemaak nie aangesien die ondersoek nog aan die gang is.

Die Sunday Times het berig dat Mentor aanklagte van korrupsie teen die ministers en die Gupta-familie aanhangig gemaak het. Volgens Ntlemeza is dit “kwaadwillig” om dus te beweer dat die Valke ʼn besluit om die ministers te ondersoek probeer beïnvloed.

“Die Valke beskou die berig as ʼn desperate poging om mense bang te maak en wantroue in die Valke te saai,” het Ntlemeza gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Die land is besig om te tuimel. Daar’s ‘n ou ou spreekwoord wat lui ‘waar ‘n rokie is…’. Die kristalbal wat ek by die vlooimark gekoop het en wou gebruik om te sien wat lê voor vir SA is dof en onduidelik. Die land se tuimeling het spoed opgetel.

Marietjie ·

Die valke moet begin ruggraat kry en zuma formeel aanklae vir al sy misdade. Tans is hulle besig om n hekese jag te voer op mense wat nie skroom om zuma in die openbaar aan te vat, en tot verantwoording te roep nie. Hoekom is hy verhewe bo die wet? En dan moet die belasting betaler 1miljard rand opdok vir sy regs kostes om hom uit die tronk te hou.

Hennie ·

En wanneer is die klagte van Vytjie Mentor ontvang? En dit word nog steeds ondersoek sonder dat ‘n dossier oopgemaak is? Hoe lank wil hulle dit ondersoek voor aksie geneem word?

Jan maak n Plan ·

Hoe op dees aarde kan jy nou jou eie baas ondersoek. Dit sal mos nou nooit deug nie. Dis dieselfde as om die hand wat jou voed af te byt.

KP ·

Ja Zuma het mos die Skerpioene ontbind en die Valke in hulle plek geskep toe hy aan bewind gekom het. Was dit dalk met n doel?????????

Ouman ·

Twyfel of hulle eers van plan was om ‘n behoorlike dossier oop te maak. Maklik om klagte te laat verdwyn en daar sal geen haan daaroor kraai nie. Valke is maar net nog een van Numba1 se rookskerms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.