Valke ontken lasbrief vir Ace

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Die Valke het ontken dat ʼn lasbrief uitgereik is vir die inhegtenisneming van Ace Magashule.

Independent Online (IOL) het Dinsdagaand in ʼn berig beweer dat daar ʼn lasbrief vir die inhegtenisneming van die sekretaris-generaal van die ANC uitgereik is.

IOL hou vol dat Magashule self aan die mediahuis bevestig het dat hy bewus is daarvan dat sy naam op ʼn lys verskyn van mense wat vandeesmaand in hegtenis geneem gaan word.

Dié spesiale ondersoekeenheid het hom egter van IOL se berig gedistansieer. “Die Valke beskou die berig as ʼn kwaadwillige poging om die integriteit van die organisasie te ondermyn,” het brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, gesê.

Volgens IOL se berig gaan Magashule in hegtenis geneem word in verband met die omstrede Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat.

Magashule het al verskeie kere onder skoot gekom vir sy rol in die Estina-projek as premier van die Vrystaat. Hy het egter ook al verskeie kere ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het en gesê die reg moet sy gang gaan.

Daar is ʼn paar jaar terug onthul dat die Guptas glo miljoene rande gekry het van die Vrystaatse regering se suiwelprojek. E-posse wys glo hoe miljoene rande na Gupta-maatskappye oorbetaal en gebruik is om onder meer vir ʼn Gupta-troue te betaal.

Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Magashule’s Web of Capture is verlede jaar gepubliseer. In die boek word daar ondersoek ingestel na Magashule se beweerde geskiedenis van korrupsie en sy posisie as hoof van ʼn goed georganiseerde staatskapingnetwerk.

Voortspruitend uit die boek het Magashule die bynaam “Mr 10 Percent” gekry. Die bynaam verwys na die 10% van alle regeringskontrakte in die Vrystaat wat Magashule glo opgeëis het. Die Valke het ook in 2018 in Magashule se kantoor ingevaar as deel van ʼn ondersoek na sy bedrywighede as premier van die Vrystaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Ou Ace het seker gedreig om ou CR en kie se geraamtes bloot te stel as hy gevang word

Hennie

Dit is vreemd dat selfs die valke hakkel wanneer dit by die groot visse kom en dit bevestig maar net my siening dat selfs hulle nie so onkreukbaar is soos wat hulle voorgee nie.
Dit is beslis tyd dat die groot vise nou ingekatrol word.

Androclus

Die man is baie uitgeslape maar ek dink sy maag begin maak nou draaie na al die inhegtenisnemings hy slaap nie lekker nie.

Kokerboom

Ten spyte van sy onaantasbare arogansie dink ek sy broek bewe. Waar daar ‘n rokie is is daar ‘n vuurtjie

Pieter

Die karakter moet toe gesluit word, en alles wat hy het tot in die bank gevat word en die sleutel weg gegooi word.