Valke oor vordering met Steinhoff-ondersoek

Foto: Bloomberg/Waldo Swiegers

Die Valke vorder baie stadig – maar seker – met hul ondersoek na die Steinhoff-debakel omdat die kwessie so ingewikkeld is en spesifiek die ouditgedeelte daarvan hoë eise stel.

Die leierskap van die Valke het Woensdag saam met verskeie ander lede van die polisieleierskap verslag gelewer aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie as deel van die parlement se oorsigrol oor die polisiebegroting.

Die Valke se legger oor Steinhoff bevat al 60 beëdigde verklarings, maar dit is die ouditkwessies wat vir hoofbrekens sorg.

Ondanks voornemens in daardie verband het die Valke steeds geen geoktrooieerde rekenmeester in diens nie, was die antwoord op ʼn pertinente vraag daaroor deur die DA-LP Andrew Whitfield.

Oor die algemeen het die speurdienste, die Valke, die spesiale beskermingseenheid en die forensiese dienste, wat almal Woensdagmiddag verslag gelewer het oor hul vordering vanjaar, die meeste van hul doelwitte bereik, maar die misdaadintelligensie-afdeling het minder goed gevaar.

Wat proaktiewe intelligensie betref, het die afdeling misdaadintelligensie 60% sukses behaal en wat reaktiewe intelligensie (intelligensie verwys in hierdie geval na inligting) betref, was die suksessyfer 43%.

Die redes waarom albei syfers nie hoër is nie, word aangegee as dat korrekte prosedures nie gevolg is nie en swak interne beheermaatreëls.

Wat die speurdienste betref, het dit baie beter gegaan, maar vir die doel van hierdie oefening het alle afdelings net gefokus op die doelwitte wat nie bereik is nie en die uitdagings wat hulle ervaar.

In die geval van die speurdienste is uitdagings dat ál meer minderjariges misdaad pleeg, wat vervolging moeiliker en tydrowender maak, dat getuies ten tyde van die misdaad so onder die invloed van alkohol was dat dit hul getuienis benewel, dat mense in geval van huishoudelike, familie- en bendegeweld onwillig is om getuienis te lewer, dat die speurdiens se stelsels dikwels van lyn is en dat beurtkrag hul stelsels se werking belemmer.

Wat die spesiale beskermingseenheid betref, was hul suksessyfer 99,97%, maar daar was drie kommerwekkende sekerheidskendings wat die DA-LP, genl.maj. Ockie Terblanche, spesifiek rooi laat sien het.

Die eerste was ʼn inbraak by die huis van ʼn adjunkminister in Pretoria. Die tweede was die selfmoord van die parlementêre amptenaar Lennox Garane in sy kantoor in die parlementêre kompleks. Die derde geval is ʼn beweerde skietvoorval by die Pan-Afrikaanse Parlement in Midrand, wat nog ondersoek word.

Die EFF het ook verskeie probleme geopper. Wat vermiste dossiere betref, het die polisie toegegee dit is ʼn groot probleem wat vererger word deur inbrake waartydens liasseerkabinette byvoorbeeld oopgebreek word. Die polisie het ook toegegee dat toksikologietoetse te lank neem om afgehandel te word.

ʼn Bekommerde nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, het toegegee een van die probleme wat tans baie toeneem, is dat getuies vermoor word voor hulle getuienis kan lewer. Op ʼn vraag van die EFF is toegegee daar is wel “veilige huise” waarin getuies beskerm word, maar die moord op getuies is veral in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap ʼn probleem, met die verskynsel wat ook ál meer in Gauteng voorkom.

Donderdag gaan die klimaks van die komitee se oorsigrol wees wanneer die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) aan die beurt kom. Ondersoekende joernalistiek deur die Daily Maverick het aan die lig gebring dat verstommend baie Opod-sake op die laaste dag, voordat daar aan die parlement verslag gelewer moet word, afgehandel word wat vrae oor moontlike bedrog met Opod-suksessyfers laat ontstaan het.

Opod se leierskap sal Donderdagoggend kans kry om hul kant van die saak te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jerry ·

Die valke is besmet met korrupte kaders wat met tyd speel en sake laat sloer ten einde oortreders genoegsame tyd te gee om getuies om te koop, te intimideer, te vermoor en sterk teenargumente en bewyse te fabriseer!

lh ·

Liefste Valke, ondersoek asb VBS ook, ons sal graag wil weet wie, wat, waar en hoe die biljoene terug betaal gaan word!

Pieter ·

Gaan nog tien jaar vat die SAP die valke is een groot grap nes hulle ANC regering

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.