Valke op spoor van 11 oor bedrog met grondtransaksies

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige korrupsie is besig met ʼn operasie waarin 11 verdagtes na verwagting in hegtenis geneem gaan word wat glo betrokke was by bedrog en korrupsie wat verband hou met grondtransaksies ten bedrae van bykans R124 miljoen. Een van hulle is ʼn senior staatsamptenaar.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê ʼn klagte is reeds in 2012 oor die Msukaligwa-munisipaliteit in Mpumalanga ontvang nadat dié munisipaliteit glo die Rietspruit-plaas naby Ermelo vir R36,4 miljoen gekoop het, terwyl dit glo net sowat R11 miljoen werd was. Die plaas sou gebruik word om ʼn township op te ontwikkel, terwyl die munisipaliteit glo reeds ʼn stuk grond besit het wat vir dieselfde doelwit gebruik kon word.

ʼn Ondersoek deur lede van die gespesialiseerde ondersoekeenheid en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is daarna van stapel gestuur, het Nkwalase gesê.

ʼn Fluitjieblaser het die ondersoekers bedag gemaak op twee ander transaksies waar twee plase ook glo teen erg verhoogde pryse aangekoop is.

Een van die eiendomme is ʼn plaas van 70 ha digby Malelane wat teen R50 miljoen aan die munisipaliteit verkoop is terwyl dit glo eintlik net R44 miljoen werd is, asook ʼn stuk grond van 74,2 ha by Naauwpoort naby Emalahleni wat teen R37,5 miljoen aan die munisipaliteit verkoop is. Dié eiendom is glo net R16 miljoen werd.

Die gesamentlike waarde van die drie plase is sowat R70 miljoen, maar weens beweerde saamspan deur die verdagtes het dit die departement van menslike nedersettings in Mpumalanga net minder as R124 miljoen gekos, het Nkwalase gesê.

“Die geld is deur vyf maatskappye gekanaliseer. ʼn Ingewikkelde papierspoor is geskep wat aansoeke deur die munisipaliteite, waardasieverslae en interne korrespondensie ingesluit het om die transaksies te regverdig.”

Die verdagtes verskyn na verwagting Woensdag in die landdroshof in Mbombela (Nelspruit).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JM ·

Hoe lank nog, Here, voor Suid-Afrika verlos gaan wees van al die misdaad? Dit is soos ‘n nimmereindigende tsoenamie! Ons kán nie meer nie!

Nico ·

JM, jy vra hoelank nog Here, wat doen ons, ons is besig met afgode, keer terug na die Here en belei die sondes wat ons gepleeg het, dan sal die Here ons land genees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.