Valke red ontvoerde tiener uit ‘prostitusiehool’

Argieffoto

Die Valke in Noordwes het vandeesweek ʼn 17-jarige ontvoerde meisie van Lichtenburg uit ʼn sogenaamde prostitusiehool gered.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, provinsiale woordvoerder van die Valke, het Donderdag gesê twee verdagtes het die meisie na bewering ontvoer toe sy ʼn rygeleentheid gesoek het.

“Die verdagtes het haar glo by prostitusie betrek, asook gedwing om dwelms en alkohol te gebruik. Die Valke het ʼn wenk ontvang en dadelik met die hulp van die Mahikeng- taktiesereaksie-eenheid ʼn klopjag by die huis uitgevoer en die twee verdagtes in hegtenis geneem,” het Rikhotso gesê.

“Die meisie is binne die huis gevind en na ʼn plek van veiligheid geneem. Die huis is glo ʼn berugte prostitusiehool.”

Die twee verdagtes, wie se name weerhou moet word aangesien hulle van seksuele misdrywe aangekla word, het Woensdag in die Lichtenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering, verkragting, seksuele uitbuiting en mensehandel.

Die saak is tot 27 Junie uitgestel vir verdere ondersoek. Hulle bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willie ·

Wel gedaan, sluit toe en gooi die sleutels vir ewig weg…

wraggies ·

As die huis so berug is vir prostitusie, hoekom is dit nie al voorheen toegemaak nie.

ELIZE ·

Baie goeie vraag. Dis ‘n kwessie van almal wat maar oë toemaak omdat niemand betrokke wil raak nie. Hierdie keer was die kind gelukkig om gevind te word, volgende keer is ‘n ander een miskien nie so gelukkig nie.

Nettie ·

Watse nonsense is dit dié dat die name van beweerde verkragters of seksuele misdadigers weerhou word? “Name & Shame them” as hulle klaar in die hof aangekla is en gepleit het, sodat die gemeenskappe waar hulle is, weet wie en wat in hul gemeenskap rondbeweeg.

Corne de Beer ·

Mag ons Hemelse Vader die kinders betrokke se ouers bo natuurlike krag gee om hierdie pyn, hartseer en skok te verwerk.
Geen ouer maak ń kind groot om te moor en te verwoes nie … asook nie om ń slagoffer te wees van sulke dade nie… ons sal ernstig ons jeug moet opdra in febed.

Koos ·

Klink of die duiwel los is in daai dorp. Nie verbaas nie, is anderdag daardeur, paaie is gaar en mense jaag deur stopstrate asof dit verpligtend is.

Markus ·

Die berig is nie feitlik korrek nie. Daar was Woensdag ń formele borgaansoek wat deur die Staat teengestaan is. Borg is geweier en die saak is daarna uitgestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.