Valke se ondersoek na NWU-skenking mag nog lank neem

dr-Theuns-Eloff-en-prof-Dan-Kwagdi

Dr. Theuns Eloff en prof. Dan Kwagdi tydens ‘n mediakonfrensie. ‘n Storm woed nou rondom die R10 miljoen skenking wat Eloff gemaak het om die NWHET te stig. Foto: Argief.

Die Valke sal moontlik eers in Junie wegspring met ʼn formele ondersoek na ʼn skenking van R10 miljoen wat die Noordwes-Universiteit (NWU) aan ʼn trust gemaak het.

Brig. Hangwani Malaudzi, woordvoerder van die Valke, het bevestig dat hulle ʼn versoek ontvang het om bewerings oor korrupsie oor die skenking wat in 2013 aan die North West Higher Education Trust (NWHET) gemaak is te ondersoek. “Die ondersoek is egter nog in ʼn baie vroeë stadium en daar is nog verskeie verklaring wat geneem moet word. Ons wag ook vir die NWU se raad om formeel vir ons te vra om voort te gaan met die ondersoek.”

Die NWHET is deur die voormalige visekanselier van die NWU, dr. Theuns Eloff, gestig om as ʼn onafhanklike liggaam geld vir die NWU en ander hoëronderwysinstellings in Noordwes te genereer.

Eloff het in November verlede jaar ʼn formele brief aan die lede van die NWU-raad gestuur waarin hy opnuut beklemtoon het dat die R10 miljoen skenking aan die NWHET en die prosedures wat gevolg is, bo verdenking is. Volgens Eloff se brief is skenkings van alumni gebruik om die trust te finansier nadat ander geldinsamelingsprojekte hiervoor nie voldoende resultate gelewer het nie. Die trust sal onder meer aangewend word om navorsingsprojekte te finansier.

Sy regte as visekanselier het hom in staat gestel om die geld oor te dra na die trust. Eloff het ook in die brief beklemtoon dat hy die skenking bevestig het met die voorsitter van die universiteitsraad en die voorsitter van die finansiële komitee. Dit het ook op die institusionele bestuursvergadering gedien. Volgens hom was prof. Dan Kgwadi, Eloff se opvolger, ook bewus van die ontstaan van die NWHET, en sommige van die vergaderings oor die trust het by die Kgwadi se kantoor op die Mafikeng-kampus van die NWU plaasgevind waar hy ook teenwoordig was.

Hoewel Eloff tans ʼn assosiaat is by die Dabiko, ʼn konsultasiefirma wat ook as konsultant vir die trust optree, het Eloff gesê hy is nie self betrokke by enige van die bestuur- of konsultasieprosesse van dié trust nie.

Kgwadi het egter ʼn eksterne ondersoek na die skenking van die NWHET gelas omdat dit sonder sy medewete bevestig is toe hy reeds visekanselier was.

Adv. Johan Kruger, voorsitter van die universiteitsraad, het vanoggend aan Maroela Media bevestig dat die ondersoek onlangs voltooi is en nou voor die uitvoerende komitee van die universiteitsraad dien.

“Dit is ’n omvangrykende verslag wat ook na die finansiële stelsels en bestuur van die universiteit kyk. Dit handel oor baie meer as net die skenking van Eloff,” het Kruger gesê. Volgens hom sal die uitvoerende komitee die verslag verwerk en aanbevelings hieroor aan die universiteitsraad maak wat weer in Junie vergader. “Dit is ’n lang proses en die raad sal besluit of hulle die verslag aan die publiek bekend sal maak.”

Malaudzi het ook beklemtoon dat hierdie soort sake gewoonlik lank neem om te ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerhard ·

Hierdie is ‘n duidelike poging tot (karakter)moord op Dr Eloff. Die vorige bedeling moet kriminaliseer word om die weersin te skep om dit te kan ‘transformeer’. In plaas om voort te bou op ‘n reus soos Eloff se werk, moet dit afgebreek word om die ‘nuwe orde’ te kan vestig. Hierdie resep van afbreek ipv voortbou het die land al op sy knieë. As oud-Eskom bestuurder breek dit mens se hart om dit te sien. Hoop die polities onkundige Akademici op Potch sien hierdeur, anders is Puk (en NWU) onderdeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.