Valke se woordvoerder bedank

Hangwani Mulaudzi (Foto: ANA)

Die nasionale woordvoerder van die Valke, brig. Hangwani Mulaudzi, het Maandag amptelik bedank.

Volgens kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het Mulaudzi sy bedanking die oggend aan die nasionale hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, oorhandig, wat dit onmiddellik aanvaar het.

Mulaudzi het persoonlike redes aangegee vir sy rede vir bedanking.

Sy bedanking volg net nadat hy onlangs in die spervuur beland het weens sy beweerde betrokkenheid by ʼn bedrogspul by die nasionale loterykommissie.

Die DA eis Mulaudzi se kop al geruime tyd nadat sy niewinsgewende organisasie (die Hangwani Mulaudzi-stigting), waarvan hy die voorsitter in Limpopo is, R3 miljoen van die nasionale lotery ontvang het om ʼn sportsentrum in Mashamba in Limpopo te vestig.

Die sentrum sou toegerus wees vir meer as 100 kinders en sou beskik oor ʼn ablusieblok, ʼn kantoor, ʼn kleedkamer sowel as ʼn boorgat met lopende water en omheining.

Die Covid-19-pandemie het glo die bou van die sentrum vertraag.

Mulaudzi het gesê die organisasie is aanvanklik in 2017 gestig om kinders in die gemeenskap met die nodige vaardighede toe te rus.

Die DA het egter hierdie skenking bevraagteken. Volgens die party het die Valke reeds ondersoek ingestel na ander aangeleenthede van beweerde korrupsie rakende die uitbetaling van Lotto-geld.

Mat Cuthbert, DA-woordvoerder oor handel, nywerheid en ekonomiese ontwikkeling, voer aan geld wat vir die sportsentrum bedoel was, is na bewering reeds bestee aan items wat nie met die werklike projek verband hou nie, soos die aankoop van minibustaxi’s en terugbetalings wat aan lotery-amptenare betaal is.

Cuthbert sê die DA het ook reeds in Oktober ʼn interne dokument van die departement van maatskaplike ontwikkeling onder oë gehad wat glo bewys dat Muluadzi die naam van sy stigting in Augustus vanjaar van die Hangwani Mulaudzi-stigting na die Bono-stigting verander het.

“Boonop het die interne dokument onthul dat die stigting van Mulaudzi sedert 2018 nie jaarverslae en nakomingsdokumente ingedien het nie, wat die skenking van geld van die lotery bloot verdag maak,” sê Cuthbert.

Die DA eis dat ʼn behoorlike en deeglike ondersoek na die beweerde wanbesteding van geld van die lotery van stapel gestuur word.

Mulaudzi het ʼn ruk gelede aan die media verklap dat politieke leiers sy lewe in gevaar wil stel met hul agendas. Hy het ook gesê dat hy nie die enigste direkteur van die stigting is nie en dat sy naam vir die stigting gebruik is, omdat dit welbekend is.

“ʼn Mens kan jou nie blind hou vir eise soos dié nie. As Mulaudzi glo dat dit niks anders as ʼn smeerveldtog teen hom is nie, sal hy geen probleem hê om sy volledige samewerking aan ʼn ondersoek na die saak te gee nie,” sê Cuthbert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JM ·

Was veronderstel om korruptes aan te keer! Hoekom is ek nie verbaas nie? Weet nie meer wie om te vertrou nie.

Snowball ·

Die donker smet van korrupsie het eenvoudig nie ‘n einde nie, dit vleg deur elke instansie soos ‘n netwerk vrot wat nooit gaan ophou nie.

Genis ·

Jou ou Cyril- “eish your people man”. Het hulle net geen integriteit of skaamte nie…

Jakes ·

Daar sal waarskynlik n paar blikke wurms oopgemaak word in die ondersoek na die lotery bedryf. Soos ons nou al gewoond is in SA sedert 1994 strek die verotting en korrupsie baie diep en wyd in ons samelewing. Eerlikheid en integriteit het eintlik vloekwoorde geword in n land wat al hoe dieper in ellende wegsak.

Adam Adriaan ·

Bedrog en korupsie slaan nou oral soos masels uit. Daar is maar geen, ja maar geen plek of instansie waar die ANC/EFF betrokke is waar daar nie verrotting van murg en been is nie. Die ANC/EFF kan herdoop word na die “CANCER AND CORRUPTION PARTY’S”. Dit stink erger as ‘n rioolplaas waar hulle betrokk is.

Elize ·

Die Valke beweer daar is nog geen saak teen hom nie. So as jy nie skuldig is nie, hoekom bedank?

Thea ·

Niks verbaas my meer nie. Hierdie is immers SA. Kies die maklikste weg, deur te bedank. Papbroekige siel! Die land is vrot, van bo tot onder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.