Valke slaan toe op Boksburg-dwelmlaboratorium

Argieffoto

Argieffoto

Die Valke het Woensdag op ʼn hidroponiese dwelmlaboratorium by ʼn huis in Boksburg toegeslaan waartydens daar op dagga met ʼn straatwaarde van sowat R100 000 beslag gelê is.

Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê die eenheid het omstreeks 10:00 op die huis toegeslaan en ʼn egpaar is in hegtenis geneem.

Hidroponiese verbouing vind in kweekhuise of binnenshuis plaas, waar plante binne water groei en grond nie benodig word nie.

Mulaudzi het gesê die laboratorium was baie gesofistikeerd.

“Beamptes het die huis deursoek en ʼn groot oes in ʼn agterkamer op die perseel gevind,” het Mulaudzi gesê. “Daar was altesaam 72 daggaplante in verskeie stadiums van groei, asook  verwerkte dagga wat reeds geoes is en gereed was om verkoop te word.”

Daar was ook 10 skilpaaie op die perseel wat deur die polisie se eenheid vir beskermde spesies verwyder is.

Die egpaar, onderskeidelik 50 en 57 jaar oud, moet binnekort in die Boksburg-landdroshof verskyn op aanklagte van die vervaardiging en handel in dwelms, asook die onwettige besit van beskermde dierespesies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lillian ·

VATSO! Wens ek was deel van daai operasie …! Welgedaan SAPS! Sorg nou net dat jul verklarings waterdig is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.