Valke slaan toe op dwelmlaboratorium

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Die Valke het Dinsdag twee verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle op ʼn dwelmlaboratorium naby Kemptonpark aan die Oos-Rand toegeslaan het.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het gesê polisiebeamptes het inligting ontvang van die geheime laboratorium in Dunlinweg in Terenure. “Die twee verdagtes is al ʼn geruime tyd op die polisie se radar. Dinsdag het die span op hulle toegeslaan terwyl hulle  dwelms in die goed beveiligde huis vervaardig het,” het Mulamu gesê.

Die Valke het beslag gelê op die dwelm Cat ter waarde van meer as R1,5 miljoen, asook chemikalieë wat gebruik word om dwelms mee te vervaardig. Twee verdagtes, onderskeidelik 28 en 39 jaar oud, is in hegtenis geneem.

Die dwelmklopjag volg kort nadat die Valke Maandag nog ʼn dwelmvonds op die Internasionale Lughawe OR Tambo gemaak het.

Volgens Mulamu het die Valke inligting ontvang dat daar die oggend bagasie sonder ʼn eienaar op ʼn vlug vanaf Nigerië die land ingekom het. Die Valke het op die bagasie beslag gelê en 20 kg efedrien ter waarde van R1 miljoen is binne-in gevind. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.