Valke slaan toe op dwelmvrag van R8 miljoen

Mandrax-tablette
(argieffoto)

Die Valke het vandeesweek op nog dwelmhandelbedrywighede toegeslaan – dié keer in die Wes-Kaap.

Twee vermeende dwelmhandelaars is Donderdag glo op heterdaad betrap toe hulle ’n vrag dwelms ter waarde van R8,6 miljoen by ’n bergingsruimte in Somerset-Wes afgelaai het.

Die verdagtes, onderskeidelik 27 en 60 jaar oud, is op die toneel in hegtenis geneem toe lede van die Valke van George en Kaapstad se narkotika-buro (Saneb) toegeslaan het.

Volgens kapt. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder, is daar op Tik en Mandrax beslag gelê. Van die dwelmmiddels was reeds in die stoorplek ingedra en ander was nog in ’n voertuig op die perseel versteek. Daar is ook twee olifanttande en ʼn banknoottelmasjien tussen dié vrag ontdek.

Dié klopjag het egter nie daar geëindig nie en die Valke-span is van daar na die verdagtes se huis in Wetton, Kaapstad, waar hulle op nog dwelms ter waarde van R810 000, ’n onbevestigde bedrag geld, asook nog ’n voertuig beslag gelê het.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het die lede betrokke by dié operasie bedank vir hul onverpoosde stryd teen onwettige dwelms en die toeslaan op dwelmnetwerke in die Wes-Kaap.

Twee aanklagte van dwelmhandel is onderskeidelik in Somerset-Wes en Lansdown geopen. Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Dié inhegtenisnemings volg kort nadat ’n dwelmhandelaar in ’n onverwante voorval Woensdag in die Pongola-streekshof in KwaZulu-Natal tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is nadat hy met dwelms ter waarde van R140 miljoen in sy besit betrap is.

Genl.maj. Jabulani Zikhali, hoof van die Valke, het in verband met dié vonnis gesê dat die Valke “vasbeslote is om diegene wat by die vervaardiging, verskaffing en handel in onwettige dwelms in die land betrokke is, vas te trek”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Amelia ·

aijaijai, en die boewe mag nou nie eens meer hul geld tel met n masjientjie nie. SA se wette is regtig net te streng. lol

Philip ·

Mooi vat hulle vas. Hulle is besif om due samelewing in die grond af te stuur. Wel gedaan. Wens hulle kan die korrupte staatsdieners ook so vas vat.

Eish ·

Baie goeie werk! Hou so aan en raak ontslae van alle onwettige bedrywighede en korrupsie. Julle gee ons moed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.