Valke slaan toe op kabeldiefstalsindikaat

Miljoene rande se kabels wag om afgelaai te word. (Foto: Saps)

Minstens 14 verdagtes is in hegtenis geneem en koperkabels en aluminium ter waarde van meer as R2 miljoen is op beslag gelê, nadat lede van Eskom se ondersoekeenheid en die Valke op ʼn perseel in Vosman in Mpumalanga toegeslaan het. Onder die verdagtes is sekerheidswagte wat aangestel is om Eskom se infrastruktuur te bewaak.

Volgens ʼn woordvoerder van die Valke het lede van Afri Guard‑sekerheidsdienste verskeie verdagtes Dinsdag betrap terwyl hulle besig was om die aluminium en koper uit Eskom se kragkabels naby Vosman in Emalahleni (Witbank) te steel. Eskom was besig om die kraglyne in dié gebied te diens en het dus die kragtoevoer na die kabels afgeskakel.

“Na verdere ondersoek is ʼn skrootmetaalhandelaar in Witbank besoek waar ʼn groot aantal koper‑ en aluminiumkabels op verskeie vragmotors gelaai was, gereed om by die handelaar afgelaai te word. Die vragmotorbestuurder is in hegtenis geneem en het die polisie na ʼn huis in Vosman verwys, waar hy vroeër die kabels opgelaai het,” het kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Nog kabels is by dié eiendom gevind, gereed om opgelaai te word. Die ondersoekspan het ook uitgevind dat die einste sekerheidswagte wat die elektrisiteitsinfrastruktuur in Vosman moes bewaak, óók by die diefstal van kabels betrokke was.”

Die verdagtes is in hegtenis geneem en sou Woensdag in die landdroshof in Emalahleni verskyn.

“Kabeldiefstal het deurlopend ʼn uitwerking op sakeondernemings se bedrywighede en word beskou as een van die hoogste vorme van ekonomiese sabotasie,” het adv. Karen Pillay, Eskom se hoof van sekerheid, Woensdag in ʼn verklaring gesê. “Staatsbeheerde entiteite soos Eskom en Transnet verloor jaarliks in totaal omtrent R7 miljard weens kabeldiefstal. Dit verhoed hierdie ondernemings om ʼn waardevolle diens aan die gemeenskap te lewer en die negatiewe uitwerking van kragonderbrekings en beurtkrag word vererger.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Colin ·

Sluit toe! Almal van hulle. Skroothandelaar, drywers, wagte, die laaste een! Siek en sat om weekliks kabels, pompe, ens. te vervang en as jy ‘n saak maak by SAPS is die eerste vraag ook sommer “het jy versekering”! Klim nie eens uit hul bakkie om ondersoek te doen of verklaring te neem nie. Kry darem ‘n saaknommer ( seker maar vir die versekering), maar die volgende dag reeds ook ‘n sms wat sê: “all leads followed up, case closed”! Pateties.

Blikkies ·

Dit gaan al baie jare aan. As die nuwe SAPS jare terug al die skrooterwe behoorlik beheer het, het het ons nie nou die probleem gehad nie. Daardie skurke moet n afset punt he. Jare gelede was dit deel van die SAP om alle tweede handse winkels en skroot erfwe in hulle wyk te besoek en na te gaan. Daar wos tot registers om hulle in toom te hou.

Charmaine ·

Laat hulle sit! De laste een! Sekuriteits maatskappye baie meer doeltreffend en paraat as die patetiese SAPD!!!

Swerwer ·

Pragtig. Wonder of die “Sekuriteitswagte” van die staat ooit deur sekerheidsklarings gaan voor hul aangestel word. Dit blyk beslis nie so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.