Valke slaan toe op NW-landboudepartement

Die Valke het Donderdag op die kantoor van die departement van landbou en landelike ontwikkeling in Mahikeng in Noordwes toegeslaan.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê lede van die ondersoekeenheid teen ernstige korrupsie het ʼn soek- en beslagleggingsoperasie uitgevoer.

Die Valke het in Maart vanjaar op Supra Mahumapelo, toe nog die premier van Noordwes, se kantoor toegeslaan. Die klopjag was in verband met ʼn ondersoek wat verband hou met wanadministrasie, bedrog en korrupsie.

“Nadat ons die beskikbare bewyse beoordeel het hangende ʼn ondersoek wat in Maart vanjaar begin is, het dit duidelik geword dat daar nog dokumentasie is wat steeds in die besit van die departement is,” het Mulaudzi gesê oor Donderdag se klopjag.

Die klopjag kom ʼn dag nadat Mahumapelo in Luthuli-huis in Johannesburg aangedui het dat hy oplaas as premier van Noordwes bedank en op vroeë aftrede sal gaan. Pres. Cyril Ramaphosa het die provinsiale regering in Noordwes vroeër vandeesmaand onder administrasie geplaas.

Die klopjag in Maart het verband gehou met betalings wat aan Nepo Data Dynamics gemaak is. Die maatskappy het ʼn driejaarkontrak om rekenaardienste en ʼn bemarkingstransformasieprogram aan die provinsiale regering te verskaf.

Michal Groenewald, die VF Plus se provinsiale leier in Noordwes, het vroeër gesê die kontrak met Nepo Data Dynamics is aangegaan vir die tydperk van 2016 tot 2019 en nagenoeg R215 miljoen is reeds aan die maatskappy oorbetaal. “Die beweerde ongerymdhede spruit glo hieruit voort. Dit is onaanvaarbaar dat staatskoffers gestroop en belastingbetalers se geld langer gesteel word deur blatante tenderbedrog en korrupsie.

“Sekere diensverskaffers buit die staat al die afgelope 24 jaar onder die ANC-regering se bewind uit,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.