Valke slaan toe op NW-premierskantoor

Supra Mahumapelo, die premier van Noordwes. Argieffoto: http://premier.nwpg.gov.za

Die Valke in Noordwes het Donderdag op die kantoor van die premier, Supra Mahumapelo, toegeslaan om ʼn soek-en-beslagleggingsoperasie uit te voer.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, het gesê die klopjag kom ná ʼn ondersoek wat verband hou met wanadministrasie, bedrog en korrupsie. “Die geldelike waarde verbonde aan die beweerde misdaad is sowat R160 miljoen,” het Rikhotso gesê.

Volgens hom is daar beslag gelê op verskeie dokumente uit verskillende kantore. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie hangende verdere ondersoeke,” het hy gesê. Volgens Rikhotso kan daar nie in dié stadium meer inligting bekendgemaak word nie aangesien die ondersoek steeds aan die gang is.

Intussen het die VF Plus die “skynbaar strenger optrede” van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke met betrekking tot ondersoeke en optrede teen korrupsie en bedrog in die staatsdiens verwelkom.

Michal Groenewald, die VF Plus se provinsiale leier in Noordwes, het gesê die klopjag hou glo verband met ʼn kontrak wat vir drie jaar tussen die Noordwes-regering en Nepo Data Dynamics aangegaan is wat glo help met die verskaffing van internet- en bemarkingstelsels in die premierskantoor en ander regeringskantore.

Volgens Groenewald is die kontrak aangegaan vir die tydperk van 2016 tot 2019 en nagenoeg R215 miljoen is reeds aan Nepo Data Dynamics oorbetaal.

“Die beweerde ongerymdhede spruit glo hieruit voort. Dit is onaanvaarbaar dat staatskoffers gestroop word en belastingbetalers se geld langer gesteel word deur blatante tenderbedrog en korrupsie. Sekere diensverskaffers buit die staat al vir die afgelope 24 jaar onder die ANC-regering se bewind uit.

“Noodsaaklike fondse vir infrastruktuurontwikkeling en die verbetering van die mense van Noordwes se lewens word aan kaders deur middel van frontmaatskappye uitbetaal. Die feit dat die hoogste leierskap in die provinsie hierby geïmpliseer word, is ʼn skande en die regerende party behoort hom te skaam,” het Groenewald gesê.

Hy het gesê die VF Plus sal die vordering van die ondersoek fyn dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Ja Shure. Waar daar n rokie trek… is daar n vuurkie wat gestook word met die bewys stukke. Dan noem mens dit n rook skerm, wat deel is van die kul jou hier en kul jou daar wassi ekki is hulle sirkus. ANC LEGACY van onbevoegde magsvergryper kaders.

Grassie ·

Hierdie premier was baie uitgesproke tydens die onluste op Coligny. Dit lyk of die wiel nou draai – ek hoop hulle skroef hom nou goed op.

Alida ·

Ek dink ons kort nog tronke want as hierdie spul skelms eers skuldig bevind word is daar nie plek nie. Tronke en skole moet nou dringend gebou word.

PJC ·

Hierdie Supra is ń uiters giftige rassis en dit sal gaaf wees as iemand hom kan vasvat. Persoonlik sal dit vir my ń blye dag wees as hy vas gevat word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.