Valke slaan toe op onwettig gemynde chroom

Argieffoto

Die Valke het vroeër die naweek op onwettig gemynde chroom en toerusting by ʼn myn buite Burgersfort in Limpopo beslag gelê.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, het in ʼn verklaring gesê lede van die Valke het Vrydag op die Modikwa-myn toegeslaan waar chroom onwettig gemyn is.

Daar is gedurende dié klopjag op 25 onwettige vragte chroom en ʼn voorlaaier met ʼn gesamentlike waarde van meer as R2 miljoen beslag gelê.

Volgens Maluleke het die Valke vroeër vanjaar soortgelyke operasies uitgevoer om onwettige mynbedrywighede in die provinsie stop te sit.

Dit het gelei tot die onlangse inhegtenisneming van agt verdagtes in die Hlaneki-, Mavalani-, en Mapuve-nedersettings buite Giyani in verband met onwettig gemynde goud van sowat R 1 miljoen.

Ses van die agt verdagtes is intussen op borgtog vrygelaat terwyl twee verdagtes van Mosambiek steeds in aanhouding is. Dié verdagtes sal almal na verwagting weer Maandag in die Giyani-landdroshof verskyn.

Volgens Maluleke word nog klopjagte op onwettige mynbedrywighede in Limpopo verwag.

“Geen steen sal onaangeroer gelaat word om diegene wat hulle voortdurend aan hierdie onwettige aktiwiteite skuldig maak in hegtenis te neem en skuldig te bevind nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

007 ·

En in Kimberley myn hulle diamante al vir jare onwettig. Hulle bly in karton en plastiek gehuggies op die grond waar hulle myn. En die Polisie kom koop die diamante by hulle.

Pieter ·

Mooi, maar wat van Mpumalanga? David Mabuzu se goud Zama Zamas. Barberton, Sabie, Pelgrimsrus. Die Blyde rivier word besoedel van hul kwik en sediment.

Andre ·

Dit klink na welbekende mynbou bedrywighede. Dit was seker nie ‘n rasse-aangeleentheid gewees nie.

Leon ·

As die dom regering net swart ekonomiese bemagtiging staak, dan kan daar werk geskep word vir die mense en dan het hulle nie nodig om onwettig te myn nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.