Valke slaan toe op onwettige skole

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Valke in samewerking met die polisie, departement van onderwys en departement van binnelandse sake het op twee private skole in Randburg, Gauteng, toegeslaan wat glo onwettig bedryf word. Die skole is gesluit, personeellede in hegtenis geneem en leerders huis toe gestuur.

Dié multidissiplinêre span het inligting ontvang dat Hillcrest International School en Academy of Sciences in Harleystraat, Ferndale, nie by die departement van onderwys as skole geregistreer is nie.

Volgens kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, is personeellede – almal van buitelandse herkoms – van die skole in hegtenis geneem.

Petros Lyson (54), die direkteur van Hillcrest, is saam met sy seuns, Rawlings (30) en Rodney (25), ook personeellede by die skool, in hegtenis geneem.

Die volgende personeellede van Hillcrest is ook in hegtenis geneem: Emmanuel Ngwenya (24), Evermore Zenda (30), Christian Egbonim (38), Juliet Maphiri (32) en Faith Mwitha (22).

Tinonmvonga Maranguza (61) wat die Academy of Sciences-hoërskool bestuur het, is in hegtenis geneem saam met ʼn personeellid, Tadiwanashe Zvichauya (18).

Die verdagtes het Woensdag in die landdroshof in Randburg verskyn op aanklagte van bedrog. Hulle word ook aangekla van die versuim om die skole te registreer, wat ʼn oortreding van die Suid-Afrikaanse Skolewet is. Aanklagte van die oortreding van die Immigrasiewet word ook ondersoek.

Die verdagtes bly in aanhouding hangende hul borgtogaansoek wat Maandag en Donderdag sal geskied.

Lyson word ook daarvan beskuldig dat hy vervalste reisdokumente bekom het vir vier minderjariges tussen 11 en 15 jaar, om onwettig na Dublin, Ierland, te reis.

“In genoemde saak is die minderjariges van vermeende mensehandel gered en drie mense in hegtenis geneem. Lyson sal saam met sy medebeskuldigdes op 13 April in die landdroshof in Kempton Park in verband met dié saak verskyn.”

Die Valke meen hierdie skole kan die punt van die ysberg wees en dat daar meer onwettige skole in die land is.

“Skole moet hul besonderhede by die Gautengse departement van onderwys verifieer deur Selaelo Kgoale by 082 677 4436 in te lig.

“Slagoffers wat enigsins geraak word, word versoek om met die ondersoekbeamptes in die saak by onderskeidelik 082 568 4598 en 071 481 2468 kontak te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adri ·

Liewe deug! Wat gaan die misdadigers nog uitdink om bedrog te pleeg?

Eugene ·

Onwettige skole!!!! Wat volgende!!. Maar wat die regering wat korrup is. Eintlik moet die hele regering afgedank en vervang word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.