Valke slaan toe op perseel wat vervalste waspoeier maak

(Foto: Valke)

Die Valke het Vrydag op ʼn perseel in Springs aan die Oos-Rand toegeslaan waar vervalste waspoeier in grootmaat vervaardig is.

Volgens lt.kol. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder, het lede van die Valke se ondersoekspan, handelsmerk-beskermers van Spoor & Fischer-prokureurs en lede van die Springs-polisie se openbare orde-eenheid op die perseel in Selectionpark toegeslaan, dit deursoek en op goedere beslag gelê.

“Die operasie is deur ʼn indringende ondersoek na die vervaardiging en verkoop van vervalste waspoeier by die genoemde perseel voorafgegaan.

“Monsters van die vervalste produkte is aangekoop terwyl lede van die Valke se intellektuele eiendomsregte- afdeling hul voorlopige ondersoek saam met handelsmerkbeskermers uitgevoer het.”

Daar is bevind dat die perseel ʼn grootskaalse vervaardigings- en verspreidingsfasiliteit is.

“Daar is tydens die operasie ʼn groot hoeveelheid rou grondstowwe, masjinerie sowel as ʼn industriële sifmasjien, ongemerkte waspoeier, vervalste etikette van bekende handelsmerke, koeksoda, gevulde en leë emmers, ʼn elektroniese weegskaal en kleurstof op die perseel gevind. Die polisie het op dié items beslag gelê vir verdere ondersoek. Die waarde van al die goedere waarop beslag gelê is, is nog nie vasgestel nie.”

ʼn 42-jarige verdagte sal in die Springs-landdroshof te verskyn op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Nagemaakte Goedere sodra al die ondersoeke afgehandel is, het Nkwalase gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nie Verbaas ·

Dit is baie verkeerd maar wat verwag die regering gaan mense doen met hulle verwoesting van die ekonomie op n daaglikse basis?

Sêmanet ·

Die storie is al jaaaare aan die gang. Ek self het ook al bestel, daai goed is ook hier in Pta beskikbaar. Ek het net nie besef dis nie die ware goed nie.

Janine ·

Seker maar omdat dit so goed ‘vervals’ was…hahaha! ;)

Swerwer ·

Dankie vader want ek het ook eenkeer van die “Seeppoeier” gekoop van ‘n bekende handelsnaam vir R200 vir ‘n 20kg emmer. Vir my is daar gesê dit word direk van die fabrieke gekoop en versprei. Dit was nie naastenby seeppoeier nie. Nooit maar nooit weer nie, vandaar koop ek maar van die rak af.

Swerwer ·

Nagemaak, vervals, noem dit net wat jy wil. Dit werk nie, ek was gevang met so ‘n emmer seeppoeier. Koop maar liewer die ware jakob van die rak af dat weet jy jou klere kom skoon.

christo ·

Ek koop maar die ware Jakob by P’nP. Kan jy net dink hoe kan dit jou wasmasjien of hande beskadig / beseer?

Janine ·

Ek het in 44 jare nog nooit gehoor dat jy seeppoeier kan ‘vervals’ nie. Die plakkers, sekerlik. Maar die seep? Hahahahaha!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.