Valke slaan toe op vuurwapenhandelaar

Argieffoto

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat lede van die Valke op ʼn vuurwapenhandelaar in Pretoria toegeslaan en beslag op 323 vuurwapens gelê het nie.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê ʼn span van die Valke se nasionale buro vir onwettige vuurwapenbeheer en prioriteitsgeweldsmisdaad het Donderdag op die onderneming van ʼn vuurwapenhandelaar in Arcadia toegeslaan te midde van bewerings dat die handelaar die Wet op Vuurwapenbeheer oortree.

Volgens Ramovha het die span in Desember verlede jaar begin om die handelaar te ondersoek nadat hy bewus geraak het van bewerings dat die onderneming vuurwapens onwettig in sy besit het.

ʼn Nakomingsinspeksie is van 17 tot 25 Januarie by die handelaar gedoen waartydens daar op die vuurwapens en verwante dokumentasie beslag gelê is.

“Die voortgesette ondersoek het tot dusver aan die lig gebring dat daar volgens rekords ʼn verskeidenheid van vuurwapens is wat onder die handelaar se naam op die vuurwapenregistrasiestelsel geregistreer is, maar waarvoor die handelaar nie rekenskap kan gee nie. Die voorskrifte van die Wet op Vuurwapenbeheer word in hierdie verband gevolg en hangende die uitkoms hiervan kan aanklagte van nalatige verlies van ʼn vuurwapen of versuim om die verlies van ʼn vuurwapen aan te meld by die ondersoek gevoeg word,” het Ramovha gesê.

Hy het gesê die vuurwapens waarop daar beslag gelê is, sal vir verdere forensiese analise gestuur word om die oorsprong vas te stel en te bepaal of die wapens in die uitvoer van enige misdade gebruik is.

Ramovha het die publiek aangemoedig om enige onwettige vuurwapens by Stop Misdaad by 08600 10111 of by die provinsiale kantore van die Valke landswyd aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adriana ·

Jip sal wil sien want ek dink dit gaan in elk geval vir plaasaanvalle gebruik word.
Ek vertrou niemand nie.

Daan Erasmus ·

Die vuurwapens word hersirkuleer. Nie vernietig nie. Net die reeks no word “vernietig”

Alida ·

Natuurlik sal die reeksnommers verander word maar dit verhoed nie kriminele om mens dood te skiet nie. Smelt die goed waar ons kan sien dit word regtig VERNIETIG.

Callie ·

Polisie wapens wat verdwyn in hordes moet liewer aandag kry. Begin polisie wat wapens verloor toe sluit dan sal dit al klaar beter gaan

AR15 ·

Die hele vuurwapen stelsel is n gemors. Ek sal nie verbaas wees as die fout by polisie self le nie. Honderde miljoene rande is al in die gat wat hulle n stelsel noem af gegooi.

Flintstone ·

Meer as 90% van polisielede is in elk geval nie bevoeg om eens n speelgoed pistool te besit nie.Valke moet op hulle makkers ook konsentreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.