Valke sloop onwettige goud-smeltery

Nhlanhla Zweli Magagula van Swaziland (links) en Jabulani Sfiso Nkosi (regs) (Foto verskaf deur die Valke)

Vier persone het Vrydag in die landdroshof in Barberton in Mpumalanga verskyn in verband met onwettige mynboubedrywighede en die onwettige besit van goudverwerkingsmateriaal.

Nhlanhla Zweli Magagule (43) en Jabulani Sfiso Nkosi (33) se aansoek om borgtog is van die hand gewys. Sydwel Sengwane (32) en Sunnyboy Manzini (27) is vrygelaat op borgtog van R1 000 elk, het kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê.

Die saak is tot 11 Desember uitgestel vir verdere ondersoek.

“Die vier persone is Woensdag in hegtenis geneem tydens ʼn ondersoek deur lede van die Valke in Mpumalanga en die nasionale ingrypingseenheid in Barberton,” het Sekgotodi bygevoeg.

Die Valke se ondersoek het onthul ʼn groep onwettige zama-zama’s, plaaslike burgers en buitelanders, het ʼn ou mynskag betree. Die span het Woensdag op die onwettige myners se prosesseringsperseel toegeslaan waar die vier persone in hegtenis geneem is. Ander persone het in die rigting van ʼn nabygeleë berg gevlug.

Die span het onder andere beslag gelê op gassilinders, ʼn hamer, flitsligte, kragopwekkers, rugsakke en springstofjel ter waarde van ongeveer R500 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.