Valke soek getuie ná polisieman se skietdood

Rafiek Rinquest (Foto: Valke)

Die Valke is op soek na ʼn man wat kan dien as ʼn getuie in die skietvoorval waarin konst. Thando Sigcu (38) vroeër vanjaar in Kaapstad doodgeskiet is.

Luidens ʼn verklaring deur die Valke was Rafiek Rinquest (37) in die omgewing toe Sigcu geskiet is. Die Valke kon Rinquest tot dusver nog nie opspoor nie omdat hy nie oor ʼn vaste adres beskik nie.

Soos vroeër berig is Sigcu op 7 Januarie omstreeks 20:40 in die Heerengracht in die middestad van Kaapstad doodgeskiet toe hy ’n rooftog-verdagte, wat ook glo ʼn dwelmhandelaar was, in hegtenis probeer neem het.

Sigcu was nie aan diens daardie aand toe hy die verdagte wou aankeer nie. Hy het glo gewone drag aangehad en het voorgegee om iemand anders te wees om so die verdagte in ʼn lokval te lei.

Twee beamptes van die Stad Kaapstad het op die toneel stilgehou. ʼn Skietgeveg het glo uitgebreek en Sigcu en die verdagte is in die proses raakgeskiet. Albei het aan hul skietwonde beswyk.

ʼn Gedenkdiens is in Januarie vir Sigcu in die St. Andrews Presbiteriaanse kerk in Groenpunt in Kaapstad gehou. Tydens die diens, het Bheki Cele, minister van polisie, ʼn beroep op die Valke gedoen om die saak so gou as moontlik af te handel.

Enigiemand wat weet waar Rinquest homself bevind, kan lt.kol. Paul Hendrikse by 082 411 2089 bel of die misdaadnommer by 08600 10111 skakel. Inligting word ten alle tye vertroulik hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Scalla

Hy wil seker nie betrokke raak nie want indien hy moet getuig sloer dit jare aangesien saak elke keer uitgetstel word.