Valke vang 8 in ʼn week oor renosterhorings

Argieffoto Foto: viechfisch, Pixabay

Argieffoto Foto: viechfisch, Pixabay

Altesaam agt verdagtes is vandeesweek deur die Valke in Mpumalanga in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem nadat onwettige renosterhorings in hul besit gevind is.

In die jongste voorval is drie verdagtes Woensdag tydens ʼn spesiale ondersoek deur die Valke se eenheid vir ernstige en misdaad in Ermelo in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van renosterhoring. Die verdagtes, tussen 22 en 30 jaar oud, sal na verwagting Donderdag in die Ermelo-landdroshof verskyn.

Dié inhegtenisneming volg twee dae nadat die valke ʼn lokval gestel het en vyf mans in hegtenis geneem het nadat dié glo ʼn renosterhoring aan ʼn lid van die Valke probeer verkoop het.

Lt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het gesê die Valke het ʼn wenk van die publiek ontvang oor mans wat glo renosterhoring verkoop. ʼn Lokval is Maandag vir die verdagtes gestel en ʼn lid van die Valke het gereël om hulle op die R541 te ontmoet om die horing te koop.

“Die verdagtes het vir hom die horing gewys en die beampte het dadelik ʼn teken aan die res van die span gegee om blitsig die vyf mans in hegtenis te neem,” het Sekgotodi gesê. “Beslag is gelê op die horing, ter waarde van R60 000, en ʼn swart City Golf.”

Die verdagtes is tussen 26 en 42 jaar oud. Hulle het Woensdag in die hof in Carolina verskyn. Die saak is na die rondgaande hof in Badplaas oorgeplaas waar die vyf na verwagting Donderdag sal verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter.v ·

Hier moet die howe wat die sake hanteeer geen genade bewys nie,maak n voorbeeld van die stropers sodat dit ander sal afskrik,ons howe is te toegeeflik in sake soos die.

Snip ·

Stem saam Pieter.v, hulle moet hard pak kry en nie weer eers in die rigting van enige dier kyk nie. Wens hulle kan almal vang .!!!!!!

Pieter.v ·

Ons moet n veldtog van stapel stuur n petisie optrek en vra dat as hulle skuldig is, moet n vonnis van lewenslank opgele word, so haal ons die ervare stropers uit die prentjie en nuwes moet ingestuur word sonder ondervinding, wat nie al die “tricks”ken nie, en makliker gevang sal word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.