Valke ‘verras’ deur OB se openbare uitlatings

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer. (Argieffoto: Twitter)

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, oftewel die Valke, sê hy is “verras” deur sommige van die Openbare Beskermer (OB) se uitlatings oor sy ondersoek na haar.

Die Valke ondersoek ʼn klag van meineed teen adv. Busisiwe Mkhwebane.

Die OB het Dinsdag mond uitgespoel oor verskeie kwessies en onder meer gesê sy meen die parlementêre proses wat begin is om haar van haar amp te onthef, is ongrondwetlik. Die DA het vroeër ʼn mosie ingedien om dié proses aan die gang te kry.

Mkhwebane het ook die Valke se ondersoek na haar bevraagteken en gesê sy glo van die teenkanting wat sy kry, is weens haar kantoor se ondersoeke na toonaangewende politici, waaronder die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het ná die uitlatings gesê die OB se stellings laat dit blyk dat die Valke ʼn meineedsaak prioritiseer – iets wat volgens Mkhwebane se stelling nié ʼn “prioriteitsmisdaad” is nie – en die ernstige sake wat sy na die eenheid verwys, agterweë laat bly.

Mulaudzi het gesê die Valke het ook kennis geneem van die OB se besluit om nié ʼn waarskuwingsverklaring oor die saak teen haar af te lê nie, omdat sy ingevolge wetgewing immuniteit geniet.

“Die Valke verstaan sy mandaat en fokus op nasionale prioriteitsmisdaad soos aangedui in artikel 17A van die Polisiewet. Ongelukkig het die OB nie aangedui op watter wetgewing sy háár interpretasies van wat prioriteitsmisdaad is, grond nie,” het Mulaudzi gesê.

“Al die sake wat haar kantoor na die direktoraat verwys het, geniet aandag. Ons het nog geen aanduiding van die OB gekry wat op kommer daaroor dui nie.”

Die Valke sê hulle was vantevore ook nie bewus van die OB se keuse om haar swygreg uit te oefen nie. Die Valke se hoof het Mkhwebane sélf gevra om ʼn verklaring oor die ondersoek na haar af te lê. Hulle het vir dié verklaring gewag sodat die saak aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir ʼn beslissing voorgelê kan word, het Mulaudzi gesê.

“Noudat haar weiering deur die media bekend gemaak is, gaan die Valke nie langer verwag dat die audi alteram partem-reël [om na die ander kant van die saak te luister] geld nie. Die dossier gaan nou sónder haar verklaring aan die NVG vir ʼn besluit oorhandig word.”

Mulaudzi sê as die OB meen die Valke misbruik sy mag of glo daar is vooroordeel teenoor haar, is daar korrekte stappe wat gedoen kan word om beswaar aan te teken – sónder om “onnodig publisiteit na te jaag”.

Hy het gesê geen aantal ongevraagde verklarings gaan die eenheid stuit om sy werk onafhanklik te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lala Land ·

Soos Trump sou sê in “The Apprentice”: “You’re fired!”

Of: “You are the weakest link, goodbye”

Leon ·

Kom ons sê liewer, you are the weakest link, you’re fired. Goodbye.
Sy is in elke geval onbevoeg. Sy is ‘n Zuma meisie.

toppie ·

Sy is onbevoeg en sy dra die titel Advokaat!! die instasie waar sy studeer het se standaard moet dan baie laag wees en indien dit een van ons tersiere instansies se regs fakulteit is, is dit beslis iets om oor baie skaam te wees.

Ekke ·

Party mense weet nie wanneer om te se okay julle het my nie – altyd die ”victim” mos!

Feite ·

“Barbie en Dirk” was net soos die OB ook advokate en kyk hoe laag was hulle mentaliteit! Gelukkig weet ons dat nie alle advokate so laag daal nie, alhoewel advokate Hlope en sy vrou ook nog soos die OB aan die pen moet ry!

Martin ·

Sy gee die regsberoep ‘n slegte naam.
Raak ontslae van haar.!

dennis ·

Die ondersoek wat sy naarstiglik
doen teen Pravin Gordham is selerlik in opdrag van ace

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.