Valke verwelkom uitspraak oor Ntlemeza

Valke

Argieffoto

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaad (Valke) het die konstitusionele hof se besluit, om die Helen Suzman-stigting se aansoek om verlof tot appèl van die hand te wys, verwelkom.

Regter Tuchten van die Pretoriase hooggeregshof het vroeër ʼn dringende interdik teen lt.genl. Berning Ntlemeza, nasionale hoof van die Valke, dat hy nie met sy pligte mag voortgaan nie, verwerp.

Ntlemeza het nog altyd volgehou hy is vasbeslote om sy grondwetlike mandaat uit te voer om ernstige korrupsie, georganiseerde misdaad en ernstige handelsmisdaad uit te roei, en dat hy nie deur enige persoon of organisasie gestuit sal word wat ten doel het om die integriteit van die Valke te diskrediteer nie.

Die kern van die regsgeding het gehandel oor die wetlikheid van Ntlemeza se aanstelling as die hoof van die Valke. Minister Nkosinathi Nhleko het hom aangestel ten spyte daarvan dat regter Elias Matojane in Februarie verlede jaar bevind het dat Ntlemeza “bevooroordeeld en oneerlik” was en nie oor “integriteit en eerbaarheid” beskik nie.

Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman-stigting, het gesê Matojane se uitsprake het regstreeks betrekking op die vraag of Ntlemeza geskik is om sy amp te beklee en aan die hoof van die Valke te staan wat noodsaaklik is vir strafregtelike ondersoeke in die land. Antonie het gesê juis daarom het die stigting besluit om regsingryping te versoek, weens Nhleko se “onkunde” en sy onvermoë om terugvoer te gee oor hul kommer rakende die Valke-hoof se aanstelling.

Antonie was vasbeslote dat Ntlemeza se aanstelling onwettig was en dat hy nie geskik is om sy amp te beklee nie.

Lees alle vorige berigte oor Berning Ntlemeza op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.