Valke vs Gordhan: ‘Hierdie is nie ʼn sepie nie’

Valke

Argieffoto

Die Valke het gesê hul regspan “sal nou die pad vorentoe bepaal”, aangesien Pravin Gordhan, die minister van finansies, ook nie die tweede sperdatum nagekom het om antwoorde op die vrae van die ondersoekeenheid te verskaf nie.

Die Valke en Gordhan is die afgelope week in ʼn openbare rusie gewikkel, aangesien die Valke beweer hy het reeds twee briewe met vrae oor die sogenaamde “rogue”-eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aan Gordhan gestuur, maar Gordhan ontken steeds hy het die tweede brief ontvang.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het Maandag in ʼn verklaring gesê die ondersoekeenheid verkies om niemand deur die media aan te spreek nie, maar het geen keuse as om “die feite reg te stel en die publiek se vertroue in [die Valke] te herstel nie”.

Die herrie spruit uit ʼn Valke-ondersoek na ʼn beweerde geheime eenheid by die SAID, wat glo op die been gebring is terwyl Gordhan SAID-kommissaris was. Sedert die ondersoek begin het, probeer die Valke antwoorde op vrae by Gordhan kry, maar kon tot op hede nie daarin slaag nie.

Volgens Mulaudzi is ʼn tweede brief met die vrae oor die geheime SAID-eenheid op 3 Maart by die kantore van Gildenhuys Malatji prokureurs, Gordhan se regsverteenwoordigers, afgelewer. ʼn Ontvangsdame het vir die brief geteken en die regsfirma het ʼn geskrewe bevestiging vir die ontvangs van die brief aan die Valke gestuur, het Mulaudzi gesê.

“Ons vind dit dus baie kommerwekkend dat die minister steeds volhou dat hy nooit die [tweede] brief gesien het met 14 Maart 2016 as sy tweede sperdatum om antwoorde op die vrae te verskaf nie,” het hy gesê.

Volgens Mulaudzi het Gordhan se regspan in ʼn brief wat op 7 Maart aan hulle gestuur is, gesê Gordhan is oorsee op ʼn sakereis en die tweede sperdatum, van 14 Maart, is ook nie haalbaar nie. “Ons wil ook noem dat die minister in hierdie brief van sy regspan die outoriteit van die nasionale hoof van die Valke bevraagteken en daarna na Artikel 6A van die Wet op Polisiedienste verwys,” het Mulaudzi gesê.

“Hierdie is nie ʼn geselsprogram of ʼn sepie nie. As die minister, soos enige ander wetsgehoorsame burger, gehoor gegee het aan ons brief en antwoorde verskaf het, sou ons nie vandag gewees het waar ons is nie,” het hy gesê.

“Die minister het nou die tweede sperdatum vir die beantwoording van vrae gemis en ons regspan sal besluit op die pad vorentoe sodat die Valke ons grondwetlike regte kan uitoefen. Hierdie ondersoek sal nie vertraag word deur ʼn individu wat weier om met die owerhede saam te werk en voorkeurbehandeling verwag nie. Geen verdere kommentaar sal oor die saak gelewer word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

André ·

Dis opvallend hoe ‘n volgehoue heksejag vir jare teen sekere individue aan die orde van die dag is terwyl ander “onaantasbare” individue se aanklagte geskrap en onder die spreekwoordelike mat ingevee word. Dit is om die aandag van die wérklike probleem af te lei…….Die grootste kriminele loop vryelik rond en geniet voorregte en aansien terwyl hardwerkende persone wat ‘n positiewe verskil en bydrae tot voordeel van almal kán en wíl maak, aanhoudend gedreig en vervolg word.

Andrea van Vuren ·

Ek stem saam André. Kyk hoe kom Robert Mc Bride elke keer los van al die aanklagte teen hom. Wat het van Shaick geword? Vra maar net? Wens hul wil Gordham uitlos. Hy probeer ten minste ons land van ondergang red! Het sy vervolgers skuldige gewetes?

Klaas ·

Solank die zuptas die valke beheer sal daar altyd probleme wees.

Sarel Strydom ·

Daar word jag gemaak op die man. Wie gaan ons volgende Menister van Finansies wees? Die Valke is lankal besig met ‘n Politieke Agenda instede van hulle werk te doen.

Dee ·

Wel, Mulaudzi het nie agtergekom dat die outoriteit wel bevraagtekenbaar is want Zuma steur hom ook nie aan sperdatums nie.

Martha ·

Kan die man nie net gelos word dat hy sy werk doen nie? Duidelik is hy baie besig om vir ons land se toeloms te veg en nou word hy aanmekaar gepla. Hy sal nie verdwyn nie. Die saak kan maar bietjie wag! Waarom die dringendheid? Laat mens wonder.

lynette ·

Z is verantwoordelik hiervoor want hy wil steeds Nene in pos he!!!!

Apie ·

Hierdie is n ZumGup foefie om hom uit te werk sodat hulle (ZumGups) kan floreer soos hulle wil. Totsiens Gordhan!!

jaun ·

Dis n jammer om te sien dat ons land so raak. Wat ek nie kan verstaan nie is hoekom hulle hom nie ondervra het toe hy nie min van finansies was nie maar nou dat hy weer in die pos aangestel is nou word die saak weer geopen so wat dan van zuma se sake hkm dan nie syne ook nie? Die mense probeer die land onregeerbaar maak.

Flippie ·

Ek dink ook Gordan moet antwoord. Hierdie ouens het R160 000 wat SARS in my tekening inbetaal het sonder rede rede uit my spaarrekening gehaal, sonder dat SARS daarvan bewys was.

Na drie jaar soek ek nog daardie geld SARS weet nie eers waar die geld is nie.

PG ·

Snaaks die ondersoek was rustende tot Pravin aangestel is. Dit is duidelik dat dit ‘n heksejag teen Pravin gedoen word. Rommelhoop hier kom ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.