Valkehoof gepols in Panayiotou-moordsaak

Lt.kol. Audrey Till, waarnemende hoof van die Valke in Port Elizabeth tydens Christopher Panayiotou se inhegtenisneming Foto: Raahil-Sain / ANA

Die moordverhoor van Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes het Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth hervat.

ʼn Saak binne ʼn hofsaak duur tans voort om te bepaal of ʼn video toegelaat sal word waar Panayiotou homself glo impliseer.

Die sakeman word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein was agter die ontvoering en moord van sy vrou, die onderwyseres Jayde Panayiotou, in April 2015.

Die staat het Woensdag lt.kol. Audrey Till, wat in daardie stadium waarnemende bevelvoerder was van die polisie se direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in Port Elizabeth, ondervra.

Till was teenwoordig toe Panayiotou in hegtenis geneem is en het aan die hof gesê hy het geswyg toe die polisie op sy huis in Uitenhage toegeslaan het, ʼn paar dae na sy vrou se dood. Sy het gesê kapt. Kanna Swanepoel het Panayiotou se regte aan hom voorgelees, maar Panayiotou het geweier om enigiets te sê of enige dokumente te onderteken.

“ʼn Selfoon is tydens ʼn soektog in ʼn motor buite die huis gevind,” het sy gesê. Sy pa was die enigste familielid wat teenwoordig was tydens die inhegtenisneming.

Till, Swanepoel en ao Leon Eksteen het saam met Panayiotou na die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark gegaan waar ʼn soektog uitgevoer is en daar beslag gelê is op items uit die egpaar se huis.

Terry Price, vir Panayiotou, het egter tydens sy kruisondervraging aan Till gesê Panayiotou se regte is nooit aan hom voorgelees nie, en sy pa, Costa, sal dit bevestig. Hy het ook die polisie se prosedure veroordeel, omdat Panayiotou geweier het om Swanepoel se sakboek te onderteken dat hy van sy regte gewaarsku is. “Swanepoel dui dit egter nie aan in enige van sy beëdigde verklarings nie,” het Price gesê.

Price wou ook weet hoe Panayiotou sy reg tot ʼn prokureur van die hand gewys het, as hy nie wou praat nie.

Christopher Panayiotou in die hof (19 April 2017) Foto: Raahil-Sain / ANA

Hy het Till gekap dat sy nie bewus is van ʼn opname van ʼn onderhoud en transkripsie daarvan toe Panayiotou se uitsmyter, Luthando Siyoni, deur die polisie na die Valke se kantoor geneem is nie. Till het gesê sy het Siyoni by die kantoor gesien, maar het nooit na die onderhoud verwys nie, omdat sy gemeen het dit “was nie relevant nie”.

“Niemand het dus vir jou gesê hulle neem hom op nie? Jy, die hoof van die eenheid, was nie daarvan bewus nie?” wou Price weet. Till het gesê sy het eers Woensdag van die opname te hore gekom.

Die staat voer aan Sinethemba Nenembe het Sizwe Vumazonke bygestaan om Jayde te ontvoer en te vermoor, op versoek van haar man. Vumazonke, die beweerde sluipmoordenaar, is intussen oorlede.

Jayde is na die buitewyke van Kwanobuhle geneem waar sy vermoor is.

Die staat voer aan Vumazonke het haar twee keer in die rug en een keer in die kop geskiet.

Zolani Sibeko is die laaste verdagte wat in hegtenis geneem is. Hy was glo ʼn paar dae voor die moord buite die kompleks waar die egpaar gewoon het. Sy betrokkenheid by die saak is nog nie bekend nie.

Die saak hervat Vrydag.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ange ·

Genade, hier kom n tweede Oscar Pistorius saak. Hy gaan seker ook net n jaar sit.

Ai tog ·

Maroela lees weer die berig deur… wat sê paragraaf 4 eintlik (Die staat……….)

Ek was ook nie bewus daarvan dat die egpaar vermoor is nie? (Laaste paragraaf)

Sune van Heerden ·

Dagsê Ai tog

Dankie vir jou boodskap.
Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Theresa B ·

Ek wens dit wil ook nou tot ‘n einde kom. Die uistel vir dit en uitstel vir dat – irriteer my grensloos! ‘n Pragtige vrou se lewe is sinneloos beindig deur ‘n man wat veronderstel was om haar lief te hê. Hulle moet boet en die swaarste straf opgelê word. Hulle moet nooit weer die buitekant van ‘n tronk sien nie!

Brabus ·

“Hy was glo n paar dae voor die moord buite die kompleks waar die egpaar vermoor is” – Maroela skrewe maak glad nie sin nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Brabus

Dankie vir jou boodskap.
Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Ek kook ·

Ek kook as ek sulke snert hoor, hoe treurig is jy as jy wil beweer jou klient se regte is nie aan hom voorgelees nie, ag asb dit is standaard prosedure, jy is so ingeprent met dit, dit kom net self uit. Sy Pa sal natuurlik saamlieg, wys ook hoe min kanse het hy om los te kom!

Rina Vermeulen ·

Ai ja hys klaar skuldig bevind as jy die publiek se mening lees. Die hofsaak het nog nie eers begin dan is daar uitstel daar was soveel draaie met getuienisse. Ek sê nie hys onskuldig nie maar laat daar net eers ñ regverdige verhoor plaasvind as ñ mens dit nog so kan noem. Deesdae is daar maar min vertroue in die regstelsel. Moenie die Dewani saak vergeet nie daar was net so baie draaie in die saak tot die hof dit op die einde uitgegooi het oor te min bewyse.

Tanya ·

Ag asseblief Rina Vermeulen. Almal weet wat hier gebeur het en dit vat nie ‘n expert om agter die kap van die byl te kom nie. Hy is nou net besig om die diepte van die bollie waarin hy is te probeer verminder deur die snert wat hy kwyd raak.

Jy weet ·

Rina, jy weet ek sal vir hom ‘n regverdige verhoor gee, mits hy eerlik is. Al die draaie en swaaie is ‘n tegniek van sy regshulp om getuies en Polisie beamptes deurmekaar te maak, te laat vergeet en dalk nog ‘n paar uit te vat. Gaan lees op hoe is Vumazonke dood, ‘n besliste sleutel getuie en daarna het Siyoli gedraai en sy tune in Chris Panayioto rigting – daardie vrees is duidelik in die lug. Verder is Jade Panayioto nie meer met ons nie, sy sou darem nie uit vrye wil vasgebind (haar kop stamp) in ‘n kar se boot klim en laat teregstel of self skiet nie. Hoe regverdig was dit teenoor haar. Sy WAS NIE beroof nie. Chanelle & Christopher het hul verhoudig erken………. Ek haat dit as onskuldige eerlike mense geen reg het en iemand wat so uitgeslape is 1000de 2de kanse kry en nog lieg om elke hoek en draai en mense soos jy vir hom pleit vir ‘n regverdige verhoor terwyl hy al die voorregte geniet, hy is net gevangenis terrein gebonde (al nadeel)

Jy weet ·

Verder Rina breek dit my hart as eerlike en respekvolle mense soos Lt.kol Audrey Till se integriteit in twyfel getrek word deur ‘n veronderstel om respekvolle regsgeleerde Advokaat om skuiwers te maak om los te kom in ‘n ernstige misdaad. As dit brood of selfs geld steel was kan ek saam jou praat, maar nie ‘n vrou wat beskerming van haar maat moes geniet het en wreed ontnugter is nie.

Rina Vermeulen ·

Tanya en jy weet gaan lees nuuste berig Panayiotou beskuldiging vermoor glo bejaarde. Dalk sal jul dan verstaan wat my pint is in die saak. Ek pleit nie vir Panayiotou nie maar kyk net na die ongeloofwaardige getuienis waarmee die hof te doen het . Daars nog geen duidelikheid in die saak nie en ñ gesloer en deurmekaar spul met getuienis in die saak dis my punt . In my bogenoemde kommentaar sê ek ook, ek sê nie hy onskuldig nie .Ook dat hy onskuldig is tot anders bewys en dat min vertroue deesdae in die regstelsel is.

Rina Vermeulen ·

Tanya en jy weet gaan lees nuuste berig Panayiotou beskuldiging vermoor glo bejaarde. Dalk sal jul dan verstaan wat my punt is in die saak. Ek pleit nie vir Panayiotou nie maar kyk net na die ongeloofwaardige getuienis waarmee die hof te doen het . Daars nog geen duidelikheid in die saak nie en ñ gesloer en deurmekaar spul met getuienis in die saak dis my punt . In my bogenoemde kommentaar sê ek ook, ek sê nie hy onskuldig nie .Ook dat hy onskuldig is tot anders bewys en dat min vertroue deesdae in die regstelsel is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.