Vals nuus oor seksvoorligting is misleidend, sê departement

(Foto: pixabay)

Die departement van basiese onderwys het gesê hy is besorg oor die impak wat vals nuus het op die debat oor die omvattende kurrikulum vir seksualiteitsonderrig as deel van lewensoriëntering (LO).

“Vals beriggewing deur sommige mediaorganisasies en vals nuus skep onnodige verwarring en angs onder ouers,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, Sondag in ʼn verklaring gesê.

“Die departement distansieer homself van ʼn reeks prente wat die afgelope paar weke op sosiale media versprei word. Hierdie prente is nie deel van die handboeke wat deur die departement versprei word nie.”

Die departement het gesê hy is bewus van ʼn drukgroep teen die kurrikulum wat misleidende plasings op sosiale media maak en “besoedelde inligting” aan die publiek versprei.

“Een van die talle prente wys volwassenes in ʼn bed met grafiese besonderhede. Nog ʼn stuk vals nuus is dat die departement vanaf 2020 kondome saam met skryfbehoeftes sal uitdeel. Daar is ook ʼn video van ʼn individu wat verkeerde en skadelike inligting versprei,” het Mhlanga bygevoeg.

Ouers word gemaan om inligting eers met die departement te verifieer voor hulle besluite neem oor die inligting wat deur sekere individue en organisasies versprei word.

“Die doel van die kurrikulum is om seksuele mishandeling, MIV, tienerswangerskappe, boeliery en groepsdruk te bespreek en om leerders te help om in die skool te bly totdat hulle graad 12 afgehandel het,” het Mhlanga gesê.

Die departement benadruk ook dat “seksonderrig” en “sekskurrikulum” nie die korrekte verwysing is na die betrokke lesplanne nie. “Die korrekte verwysing is omvattende seksualiteitsonderrig. Dit is deel van ʼn afdeling van die lewensoriënteringsvak, wat op ‘seksualiteit’ eerder as ‘seks’ fokus. Media het ook foutiewelik daarna verwys as ʼn ‘nuwe kurrikulum’ of ‘beplande kurrikulum’, terwyl die departement dit baie duidelik gemaak het dat die afdeling van omvattende seksualiteitsonderrig in LO nie ʼn nuwe kurrikulum is nie.”

Die departement het nou alle voorgeskrewe lesplanne beskikbaar gemaak sodat die publiek dit kan lees en kan hersien. “Ignoreer dus asseblief die jongste misleidende inligtingsveldtog wat verwarring veroorsaak en paniek wil saai.”

Mhlanga het gesê dit is dus belangrik dat daar nie ʼn nuwe seksualiteitsonderrig-kurrikulum in 2020 vrygestel word nie. “Die departement gaan ʼn loodsprojek in vyf provinsies (1 500 skole) van stapel stuur. Die departement gaan slegs die gebruik van voorgeskrewe lesplanne toets, niks meer nie. Konsultasiegesprekke is gehou in die gebiede waar die loodsprojek gaan plaasvind.”

Mhlanga het bygevoeg die departement het, sedert die kurrikulum in 2000 bekend gemaak is, deurlopend in gesprek getree met belanghebbendes, op ʼn nasionale en provinsiale vlak. Hierdie gesprekke is gebaseer op, onder andere, die hoë voorkoms van MIV en tienerswangerskappe.

“Die departement is oop vir verdere gesprekke en sal verder met besorgde burgers in gesprek tree vir insette oor die voorgeskrewe lesplanne,” het Mhlanga gesê.

Lees ook Hettie Brittz se rubriek op Maroela Media: Seksvoorligting hoort nié in skole nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

28 Kommentare

Stormjaers ·

Ek distansieer myself van die nonsens. Dit is my plig as ouer om toe te sien wat my kinders keleet sal word.

Kiskar ·

Amen! Ek sal nodsteeds nie my kind deur die staat laat ‘opvoed’ nie. Dankie tog vir iets soos tuisonderrig.

Elsabie ·

Stuur dan vir ons ‘n voorbeeld van hoe julle boeke lyk vir volgende jaar, dan sal ons nie die snert glo nie!

Lizelda ·

Want d berig wat ek op die einste Maroela Media gelees het het my laat snak na my asem. Ek weet net nie hoe d Dept. Dink gaan dt tienerswangerskappe verminder nie. Want joh!! Met daai grafiese beeldmateriaal ens. Kan dt enige tiener rede gee om te eksperimenteer

Carinne ·

Gaan google CSE. Gaan na die webtuiste en gaan lees elke leerderboek deeglik deur. Dis nie eksplisiet nie. Of ek met alles saamstem is ‘n ander saak.

Jacob ·

Hoe wil die knaap hê ons moet hom glo?? Eers het hulle die seks onderig ontken en gesê dis nie deel van die onderig nie en nou weer is dit deel maar nie soos deur ons beweer word nie. Jy het die eerste keer gelieg en nou wil jy hê ons moet jou die keer glo. Jammer ons glo julle nie

Jana ·

Ek het ‘n probleem met die woordjie
” omvattend” want dit kan enige iets insluit. Waar kan ons sien wat alles in die kurrikulum is vir elke graad? Hierdie is in elkgeval vir my ‘n inmenging van die staat waar dit nie hoort nie want op die oomblik leer julle in elkgeval my kinders waardes wat direk teen myne indruis soos bv dat aborsie ‘n opsie is!! Van die dinge wat die kinders geleer word is goed, maar ek dink hulle gebruik hierdie vak om die jong geslag te kondisioneer om soos hulle te dink. Hulle kan die kinders dinge leer wat ” waardevry” is soos hoe om water te spaar maar seks en seksualiteit is nie waardevry nie en moet vir kinders geleer word deur ouers.

Sanna ·

Doen navorsing oor die skrywers van die boek. Na psigometriese toetse om seker te maak dat hul nie kinders sien as toeganglike seksuele maats nie, kan mens hulle begin ernstig opneem omtrent opvoeding.

Ouer/onnie ·

Ek het so vinnig deur die gr9 boek ge’scan’… ek wil nie hê my gr9 dogter moet in detail en stap vir stap verduidelik word hoe om n vroulike kondoom in te sit nie. Sy het nie nodig om dit te weet nie. Nie eens in matriek nie. Wat sy wel nodig het om te weet, is dat sy die inligting op die pakkie kan lees as sy dit nodig het, maar dat sy eerder moet wag tot sy en haar vaste lewensmaat n verbintenis aangegaan het (of so iets). Rerig, ek het nie eens geweet hoe dit gedoen word nie, en wil my kinders teen sulke goed beskerm.

Elmarie ·

Ek het nou curriculum vinnig gelees en dit bevat verseker goed wat ek voel my kind hoef nie aan die snert blootgestel te word nie! Die feit is ons kinders is nou in gemengde skole waar morele waardes hemelsbreed verskil van die ander leerders! Wat die Dept dink is veilig vir ons kinders is nie noodwendig ‘veilig’ en opvoeding nie want wat ‘hulle’ aan blootgestel word van kleins af is vir hulle normaal! Nou moet ons kinders blootgestel word aan die nonsens!
Daar is onder andere foto waar die kinders nou die manlike en vroulike ‘Private Parts’ moet inkleur! Kyk na Graad 4 se worksheet 4.2.1! Dis tyd vir ons eie skoke!!

Susanna ·

Ek stem saam met jou Elmarie! My koring is ook groen en moet oor drie jaar laerskool toe. Teen daardie tyd wil ek hulle inskryf by ‘n skool wat bekostigebare onderrig verskaf wat internasionaal kersvas hou en glo my geen sulke snert is in die oorsese kurrikulums nie.

Gaitsigubib ·

Voor 1994 was die een wat jou vertel van “seksualiteit” jou ma of pa, of n pedofiel. Mhlanga, is watter groep is jy?

Verbruiker ·

Nou wys ons hoe lyk julle “waarheid”, sodat ons nie die “vals nuus” glo nie!

Leon ·

Iemand sê vanmore op die radio “Jou kind gaan skooltoe met ‘n tas en kom terug met ‘n baba stootwaentjie”.

Annelize ·

Dis wanneer die Departement so begin wal gooi, dat jy moet weet, ‘n paar oop senuweepunte is aangeraak, en ons as ouers is besig om te krap waar hull nie wil he ons moet krap nie..

Die Laerskool waarin my Gr4 kind is, het verlede week per omsendbrief ouers in kennis gestel dat die skool gekant is teen die voorgestelde kurrikulum. ‘n Stap wat hulle NIE sou geneem het, as daar nie genoegsame gronde was nie. Die omsendbrief lui verder dat die Suid Afrikaanse Onderwysersunie die kurrikulum onaanvaarbaar vind, dat SAOU dit boikot en tans in konsultasie is met onderwysowerhede. Selfs FEDSAS, die Federasie vir Skoolbeheerliggame is besig met hulle eie ondersoek.

Dink die Departement regtig dat ons SO onnosel is? Hierdie organisanies en liggame sal nie sulke stappe neem indien dit nie nodig is nie. Die Departement is aan die verkeerde kant van die draad, hulle krap waar dit nie jeuk nie, en nou is hulle besig om op patetiese wyse stof op te skop.

Maak maar julle veiligheidsgordels vas en verwyder julle valstande, hier kom een “bumpy ride”.

Rossi ·

Plaas leer hulle die kinders lees en spel. So baie kinders in die hoërskool kry nie met hulle vraestelle klaar nie omdat hulle nie kan lees nie.

Wiki ·

As dit dan “onwaar” is, maak die boeke beskikbaar op internet dat ons deur dit kan blaai

Maraai ·

Ek was St9 , vandag se graad 11 – dus 17, toe ons in Biologie (teen die einde van die jaar eers) seksvoorligting gekry het. Ek was amper dood van skaam. Arme kinders…

Grassie ·

Ons moet baklei vir wat hulle in geskiedenis ook geleer word!!

Quentin X. Viljoen ·

Ek gee nie om watse doekies julle daarom draai nie, dis NIE julle plig , of wat ons as ouers van die skole verwag nie! Dit HOORT NIE in die skool nie! Klaar gepraat!

Cheryl Mostert ·

Quentin ek staam saam met jou. Oor uit en gedaan. Mooi koekies word nou gebak om dit aanvaarbaar te maak. Nonsens met dit!!!!

Antoon ·

Ek het met familie en vriende in die VK gepraat oor die sogenaande CSE in skole daar. Die goed wat klein kindertjies (daar) moet leer is skokkend! Ek kan nie glo “ons” wil dit aan ons kinders hier doen nie – fopnuus of nie

A Mac ·

Alla wêreld! Dat so baie mense nou kan verkeerd wees. Iewers mos hulle tog die inligting gekry het en aangesien die Onderwys Departement in “beheer” is van ons skole en wat daar geleer word mos hulle die vakinhoud opgestel het. Punt is – SEKSOPVOEDING HOORT NIE IN SKOLE NIE. Leer die kinders eerder met begrip lees en skryf en behoorlik somme doen en los die buitemuurse aktiwiteit van seks vir die ouers om dit met hul kinders te bespreek.

Prok ·

Ons het ons eie skole! CVO skole. Hulle bied bekostigbare onderrig van hoë gehalte, hul skryf die IEB eksamen en 2 van die skole het reeds internasionale akkredetasie. Hul bied Christelike LO aan waar kinders geleer word van studiemetodes en goeie maniere. CVO skole het Bybelonderrig as verpligte vak en die ouers hoef hul nie te bekommer oor wat hul kinders geleer word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.