Valsmoordvisse soek skuiling by V&A Waterfront

Valsmoordvisse in die V&A Marina (Foto: Seafari App, Facebook)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die departement van omgewingsake het die publiek versoek om nie ʼn groep valsmoordvisse te pla wat skuiling kom soek het in die V&A Waterfront-gebied in Kaapstad se hawe nie.

“Vier valsmoordvisse, insluitend ʼn kalfie, swem sedert Sondagoggend in die Tafelbaaihawe rond in die V&A Marina,” het Craig Lambinon, woordvoerder van NSRI, gesê. “Die departement van omgewingsake het booteienaars versoek om so ver as moontlik om hierdie groep valsmoordvisse te vaar as moontlik.”

Lede van die publiek het Saterdag gehelp om vermoedelik drie valsmoordvisse weer in die water te kry nadat hulle by Sunset Beach in Milnerton gestrand het. NSRI Melkbosstrand en die departement het ook reageer op die voorval. “Dis nog nie duidelik waarom hulle gestrand het nie, alhoewel daar vermoed word dat een van die diere beseer is.”

Die departement het in ʼn afsonderlike verklaring gesê die groep bestaan uit drie volwassenes en een kalfie. “Een van die volwassenes het kopbeserings opgedoen, maar dit wil voorkom of die ander twee in ʼn goeie toestand is.” Die departement vermoed die beseerde individu het die groep laat strand.

“Hul huidige ligging is die beste onder die omstandighede. Die departement hoop dat die beseerde dolfyn sal rus en genoeg krag sal kry om weer van die kus af weg te beweeg, anders sal hulle weer strand.”

Valsmoordvisse kom gewoonlik in groepe van tot 40 diere voor of kleiner groepe van 10 – 20 dolfyne, maar dit is nie ongewoon dat selfs kleiner groepe vorm nie. Die spesie is bekend daarvoor dat hulle soms in groot getalle strand.

“As gevolg van hul sterk sosiale bande, sal hulle selde hul rug keer op ʼn lid van die groep wat in nood verkeer. Een individu kan dus veroorsaak dat ʼn hele groep strand. Die publiek word dus gemaan om nie die diere te teister nie en hulle toe te laat om te herstel ná die angs van Saterdag se gestrand.”

Die departement sal die situasie met alle belanghebbendes bly monitor. “Ons sê dankie vir almal wat ʼn rol speel in hierdie ontwikkelende situasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Stokkies ·

Dieselfde ding.. dis hoekom mense moet vermy om algemene name i.p.v. wetenskaplike name te gebruik, want n “delicious monster” is dalk n sekere plant hier by ons maar iets anders oorsee.

Sune van Heerden ·

Dagsê Wondernet

“Valsmoordvisse” is ‘n tipe dolfyn, en moet nie verwar word met “moordwalvisse”, ‘n tipe walvis nie.
“Valsmoordvisse” (Pseudorca crassidens), of in Engels “False Killer Whales”, is die vierde grootste dolfyn en deel karaktereienskappe met moordwalvisse (Orcinus orca), of “Killer Whales” in Engels.

Ek hoop dit klaar dit vir jou op!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Mike Kaapstad ·

Whoa nie geweet n valsmoord vis en dolfyn dieselfde nie……….

Sune van Heerden ·

Dagsê Mike Kaapstad

“Valsmoordvisse” is ‘n tipe dolfyn, en moet nie verwar word met “moordwalvisse”, ‘n tipe walvis nie.
“Valsmoordvisse” (Pseudorca crassidens), of in Engels “False Killer Whales”, is die vierde grootste dolfyn en deel karaktereienskappe met moordwalvisse (Orcinus orca), of “Killer Whales” in Engels.

Ek hoop dit klaar dit vir jou op!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Pippy Langkous ·

Wil ek ook graag weet. Is ‘n valsmoordvis ‘n dolfyn of walvis? Hoekom dan nie van dolfyne praat vd begin af nie?

Sune van Heerden ·

Dagsê Pippy

“Valsmoordvisse” is ‘n tipe dolfyn, en moet nie verwar word met “moordwalvisse”, ‘n tipe walvis nie.
“Valsmoordvisse” (Pseudorca crassidens), of in Engels “False Killer Whales”, is die vierde grootste dolfyn en deel karaktereienskappe met moordwalvisse (Orcinus orca), of “Killer Whales” in Engels.

Ek hoop dit klaar dit vir jou op!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Antoinette ·

Is hulle nie maar net gewone dolfyne nie of is daar verskil tussen dolfyn en valsmoordvis???

Andre ·

Die moordwalvis “Orcinus orca”, is ook bekend as die orkawalvis, ork of swartvis. Dit is ‘n tandwalvis in die dolfynfamilie. Nie bedreiging vir mense nie.

Anni ·

Ek dink dis seker chinese vissersbote wat hul probeer vang het en toe seker beseer het.

Nettie ·

Geez, party mense is darem dig! Drie keer hierbo, het MM verduidelik wat die verskil tussen ‘n moordwalvis (Orca), valsmoordvis (Dorca) en dolfyne is, maar herhaaldelik kom die vraag weer op. En die boodskap ágter die berig gaan verlore – los die drie VALSMOORDVISSE in die V&A Waterfront hawe UIT sodat die beseerde een (hopelik) kan herstel en die groep na die oop see kan beweeg.

Mimu ·

Moordwalvisse is in elk geval ook deel van die see-dolfyn familie.

Niel ·

ek dink hulle swem daar in die baai rond om te kyk hoe hulle die ander visse uit die akwarium kan red. hehe, ok – net ‘n grappie. Hoop ook die mense gaan wyd om die “dolfyne” (ok ok, valsmoordvisse) Mag hulle ‘n veilige vesting ervaar aan die kaappunt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.